|
|
|
|
1. Die NGK en VGKSA gemeentes van Wynberg het sedert 2007 ’n gesamentlike bediening op basis van besluite wat deur die kerkrade gesamentlik sowel as afsonderlik bespreek en goedgekeur is. Die lidmate het tydens gemeentevergaderings in 2008 die wens uitgespreek dat die gemeentes in al hul werksaamhede moet saamwerk behalwe waar die Kerkorde en die gemenereg dit vereis dat hulle as afsonderlike regspersone moet optree. Beide gemeentes is bereid om hul selfstandigheid in navolging van Christus se gebed in Joh 17 en artikel 2 van die Belydenis van Belhar prys te gee. Die Belydenis van Belhar is ook in die belydenisgrondslag van die samewerkingsooreenkoms ingesluit. Die ooreenkoms was deur twee prokureurs en Prof. Piet Strauss, dosent in kerkreg, gunstig beoordeel. Tog weier die VGKSA Ring van Wynberg en die actuarii van die streeksinodes se regskommissies om die gemeentes te steun in hul strewe om op hierdie wyse nou saam te werk. Hulle verhinder die gemeentes se herenigingsproses deur gewoon nie te reageer op voorstelle en versoeke van die kerkrade nie (verwys na punt 7 op die bladsy Uitdagings). Selfs 'n beroep op die belydenisgrondslag, naamlik Christus se gebed in Joh 17 en artikel 2 van die Belydenis van Belhar, is onbeantwoord gelaat. Die gemeentes van Wynberg se herenigingsproses is hierdeur benadeel aangesien dit veral die VGKSA kerkraadslede onseker laat voel het. Dit behoort nie so te wees in ’n konteks waar die Belydenis van Belhar ’n rigsnoer vir die lewe van die kerk is nie. Gemeentes wat die moed het om op ’n verantwoordelike wyse deur die grense van geskeidenheid te breek, behoort al die ondersteuning moontlik te kry omdat dit ’n moeilike pad is in terme van verhoudings, regsproblematiek, finansiële opoffering en selfs lidmaatverlies. Kerklike kommissies behoort daadwerklik saam met sulke gemeentes na oplossings te soek. Die kerkordelike bepalings van die kerk behoort altyd as instrumente te funksioneer om sulke gemeentes te help in die ordelike uitvoering van die belydenis en besluite van hul kerke. 2. Waarom word die gemeentes nie deur die VGSA ring en die streeksinodes se regskommissies gesteun in hul strewe nie? Dr. Plaatjies meld by punte 41 en 49 van haar oorsig dat VGKSA se ringspredikante die actuarius en die regskommissie versoek het om die proses “streng volgens die kerkordelike bepalings van die VGKSA te hanteer.” Hoewel dit vir wyle Ds. James Buys as oud-actuarius en oud-moderator ook belangrik was om binne die kerkordelike bepalings te bly, het hy tog anders met die kerkorde as die VGKSA Ring en Dr. Plaatjies omgegaan. Hy het byvoorbeeld ingesien dat die gesamentlike bediening van die Wynberg gemeentes, soos in die geval van gefedereerde gemeentes in die PKN[1], ’n nuwe reëling betreffende die konsulentskap benodig. Hy het voorgestel dat die ander leraar die afwesige leraar se ampspligte moet kan waarneem. Hy wou hiermee voorkom dat die gesamentlike bediening as gevolg van die afwesigheid van een van die leraars ontwrig sou word deur ’n konsulent wat nie dieselfde blootstelling aan die versoenings- en herenigingsproses as die gemeentes gehad het nie. Die VGKSA Ring het Ds. Buys se voorstel wat hulle in 2007 goedgekeur het, egter na sy dood “herroep” met katastrofiese gevolge vir die gemeentes. Dit het 18 maande geduur voordat die vakature gevul is. Hoewel die konsulent in hierdie tyd ook goeie werk gedoen het, het talle kerkraadslede bedank en is heelwat lidmate vervreem weens spanning wat volgens hulle veroorsaak is deur sy optrede. Hoewel hierdie probleme onder die aandag van die streeksinodes se actuarii gebring is, was die status quo gehandhaaf omdat daar gemeen is dat die VGK Ring “korrek” volgens die kerkorde optree. 3. Verskillende benaderings tot die kerkorde was ook ’n probleem in die Samen op Weg-proses in Nederland. Hoewel die gereformeerdes ’n dunner kerkorde as die hervormdes gehad het omdat hulle die mondigheid van die plaaslike kerk beklemtoon het, het hulle volgens Wallet volstrek gehou by wat daar staan. Die hervormdes wie se kerkorde “alles van bovenaf tot in de punten en komma’s” gereël het, was meer aanpasbaar: “De hervormden regelden wel alles, maar als het er eenmaal stond, ging men er nogal vrijblijvend mee om.”[2]Die probleem van verskillende benaderings tot die kerkorde hou waarskynlik verband met die kontras tussen ’n regspositivistiese benadering (is dit wettig?/klop dit met wat daar staan?) en ’n natuurregtelike benadering (is dit regverdig?/is dit juis?/is dit soos dit behoort te wees?).[3] Die oplossing lê volgens Koffeman in die balans wat tussen die twee benaderings gevind moet word. Aan dit wat oor die kerk geglo word, behoort hande en voete in die kerkregtelike praktyk gegee te word, sowel in die reëlgewing as in die wyse waarop daar met die reëls omgegaan word.[4] Dit sou in hierdie verband byvoorbeeld onaanvaarbaar wees om die twee gemeentes van Wynberg te verplig om steeds hul afsonderlikheid te behou en terselfdertyd artikel 2 van die Belydenis van Belhar te handhaaf. 4. Wat lê onderliggend aan die kennelike verhindering van hierdie sowel as ander herenigingsprosesse in die NG Kerkfamilie? Dr. W. Zijlstra se bydrae oor die remmende invloed van onbewustelike psigologiese faktore op die Samen op Weg-proses[5] tussen die Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerken, mag help om sommige van die onderliggende oorsake beter te verstaan. Hy wys op vier fundamentele behoeftes van mense, naamlik die verlange na identiteit, geborgenheid, vryheid en die behoefte aan ordening en ewewig. Indien hierdie behoeftes in die gedrang kom, veroorsaak dit onsekerheid en angs. Volgens hom kan mense dan op drie maniere reageer: hulle kan vorentoe vlug deur aan te val, na agter vlug deur vas te klou aan hul eie mening en posisie, of besluit om nie meer deel te neem nie. Volgens Barend Wallet, voorsitter van die destydse werkgroep kerkorde, het daar afstand in die Samen op Weg-proces ontstaan sodra rolspelers vermoed het dat hul identiteit in die weegskaal kom of hul outonomie bedreig word.[6 Die werkgroep vir kerkorde het dit probeer teenwerk deur ’n duidelike visie op die indentiteit van die verenigde kerk te ontwikkel en ‘n sterk aksent op die plaaslike gemeente te plaas.[7] Dit het onder andere behels dat hulle voorsiening moes maak dat sekere gemeentes meer gereed was om die nuwe identiteit – dat dit beter is om saam te wees – te omhels sonder om dwang op die ander gemeentes te plaas. 5. Die probleem van “ongelyktydige ontwikkeling”, wat die Nederlandse kerke in die Samen op Weg-proses ondervind het[8], is ook in die Wynberg konteks sigbaar. Die NGK en VGKSA gemeentes van Wynberg beskou die proses van hereniging as ‘n groeimodel wat van die plaaslike vlak na die ring en sinodale kommissies moet deurwerk. Die gemeentes dring aan op nuwe ruimte vir samewerking sodat die groei van hul herenigingsproses nie belemmer mag word nie. Die VGKSA ring aan die ander kant ervaar die gemeentes se proses as ongeoorloof en “opportunisties”,[9] omdat die gevraagde voorsiening volgens hulle nog nie van bo-af gemaak is nie. Die ring versoek daarom hul streeksinode se regskommissie om die aangeleentheid “streng volgens die kerkordelike bepalings van die VGKSA te hanteer.” Dit stel die regskommissies van die streeksinodes voor die moeilike uitdaging om hierdie ongelyktydige ontwikkeling te bestuur. Hulle moet reg laat geskied aan die Wynberg gemeentes wat volgens die betrokke reglemente en die belydenisgrondslag ‘n deurbraak begeer, terwyl dieselfde knelpunte wat in die gemeentes se pad staan, moeilik deur die ring verwyder sal word omdat dit geborgenheid gee aan hulle wat nog nie vir ’n soortgelyke proses gereed is nie. Die ring het ook die mag om die Wynberg gemeentes gyselaar te hou aangesien hulle die ooreenkoms moet goedkeur. 6. ’n Weg sal daarom gevind moet word wat dit moontlik maak dat die proses met verskillende grade van deelname verder kan gaan. Daar is ’n voorbeeld: die Samen op Weg-proses se “Tussenorde” het, soos die NGK en die VGKSA se betrokke reglemente, gepoog om binne die reëlings van die bestaande kerkordes voorsiening te maak vir gemeentes wat nuwe ruimte begeer het. Aan die ander kant was daar ook geen druk geplaas op gemeentes wat nog nie gereed was nie: hulle kon bly binne die geborgenheid wat die bestaande kerkordes aan hulle gegee het. 7. Karl Barth het vier algemene voorveronderstellings vir die kerkreg teen die agtergrond van die Duitse kerkstryd geformuleer: dit moet dienend, liturgies, lewend en eksemplaries wees. Mag kan slegs legitiem wees as dit dien. Kerkreg is voorts lewende reg, want die Heer leef. Dit moet daarom steeds bereid wees tot nuwe antwoorde. Dit is dinamies, menslik, nooit afgeslote, steeds op weg van slegter na beter. Kerkreg word gebore uit gehoorsaamheid aan Christus en moet daarom altyd met eerbied benader word. Daar kan ook tye kom waarin gehoorsaamheid juis vra dat die kerklike regspraak verander moet word. Kerke kan in hierdie verband van mekaar leer [10]. Danie Nel, 23 September 2010
[1] Volgens die PKN se reglement vir samewerking van gemeentes word ’n gefedereerde gemeente vir die doeleindes van die konsulentskap as een gemeente beskou. [2] Wallet, B., Samen op weg naar de Protestantse Kerk in Nederland. Het verhaal achter de vereniging, Zoetermeer 2005, 134. [5] Wallet 2005, 127. [6] Wallet 2005, 114. [7] Wallet 2005, 135,139. [8] Wallet 2005, 128vv. [9] Die voorsitter van die VGKSA Ring van Wynberg en konsulent van die VGKSA Wynberg, Ds. Corrie Klazen, het die eenheidsproses van Wynberg in ’n onderhoud met Kerkbode beskou as opportunisties. [10] Vergelyk Koffeman 2009, 89vv.. Barth, K., Die kirchliche Dogmatik, IV/2, Zurich 1964, 768vv. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|