|
|
|
|
1. Die NGK en VGKSA gemeentes van Wynberg het sedert 2007 ’n gesamentlike bediening op basis van besluite wat deur die kerkrade gesamentlik sowel as afsonderlik bespreek en goedgekeur is. Die noue samewerking tussen die gemeentes het betrekking op sekere werksaamhede van die gemeentes wat volgens die onderskeie kerkordes as verantwoordelikhede van die kerkrade beskou word.[1] Hierdie werksaamhede is gegroepeer in ’n geïntegreerde bedieningsmodel wat uit drie hoofbedieninge bestaan, naamlik:
Die samewerking hef op geen wyse die kerkordelike bepalings met betrekking tot ampsdraers, finansies, personeel, eiendom en die regte en verantwoordelikhede van die onderskeie kerkrade ten opsigte van die kerkverbande op nie omdat sulke sake afsonderlik deur die kerkrade hanteer word. Besluite van die gesamentlike kerkraad word afsonderlik deur die kerkrade bekragtig. Die lidmate van die gemeentes was geraadpleeg in die besluite met betrekking tot samewerking. Hoewel die kerkrade nog nie ’n formele ooreenkoms opgestel en geteken het nie, was die besluite nogtans deur die kerkrade as ’n bindende ooreenkoms tussen die gemeentes beskou. ’n Formele ooreenkoms sou ’n volgende stap wees in ’n progressiewe proses van gesamentlike besluite wat sedert 1991 ontvou het. 2. Die kerkraad van die VGKSA Wynberg het die besluite betreffende samewerking in die vorm van vertoë aan die VGKSA Ring van Wynberg voorgelê, wat op 22 - 23 Augustus 2007 te Wynberg in sitting was. Ds James Buys het aan die gesamentlike kerkraadsveradering verslag gedoen dat die ring die vertoë in sy geheel goedgekeur het. Die betrokke besluite was nie in 2007 op soortgelyke wyse aan die NGK se Ring van Wynberg voorgelê nie omdat die ring tydens die sinode van 2007 slegs gekonstitueer het met die doel om sinodale verteenwoordigers aan te wys. Die konvent van Wynberg, waartydens die NGK en VGKSA Ringe gesamentlik konstitueer, het wel op 21 November 2007 van die samewerkingsbesluite kennis geneem. 3. Die Ring van Wynberg (VGKSA) het op 4 April 2008 kennis gegee dat hulle by ‘n spesiale ringsitting hul goedkeuring van die besluite “...in die lig van die sterfte van die leraar van die Wynberg” gaan heroorweeg. Die spesiale Ringsvergadering was belê vir 15 April 2008. ‘n Versoek is aan die Ring gerig dat die vergadering uitgestel word om eers aan die kerkrade van Wynberg die geleentheid te gee om te besin oor hoe daar op ’n konstruktiewe wyse met die Ring en die Sinodale leierskap oor die toekoms van die gemeentes se gesamentlike bediening onderhandel kan word. Die vergadering was uitgestel na Dinsdag 22 April 2008. 4. Op versoek van rustende kerkraadslede van die VGKSA Wynberg, in wie se dienstermyn die betrokke besluite geneem is, het die kerkraad ooreengekom om op 13 April 2008 ’n gesamentlike gemeentekonferensie te hou waarheen kerkraadslede, rustende kerkraadslede en lidmate genooi was. Die doel van die konferensie was “...om ’n werkswyse te vind waarbinne die Ring en Sinode op ’n konstruktiewe wyse ons vennote kan word om ’n weg te baan vir ons toekoms sowel as vir die totstandkoming van verdere eenheidsgemeentes.” Die volgende verklaring is tydens die gemeentekonferensie eenparig goedgekeur en onderteken deur almal wat teenwoordig was: “Die NGK en VGK Wynberg het in 'n gemeentevergadering op 13 April 2008 besluit om die volgende aan die VGK Ring van Wynberg oor te dra: 1. Die gemeente is eenparig in hulle strewe om te bly by die gees van die samewerkingsooreenkoms tussen die NGK en VGK Wynberg, soos voorgelê aan en goedgekeur deur die Ring, ten spyte van die afsterwe van ds James Buys. Die Ringskommissie word genooi om by wyse van 'n gemeentevergadering met die gemeentelede daaroor in gesprek te tree, sou dit nodig blyk te wees. 2. Die gemeente aanvaar dat die Ring, soos die Sinodes van die VGKSA en NGK, die doelwit van hereniging op gemeentelike, rings- en sinodale vlakke steun. 3. Die gemeente versoek die Ring om, sou daar kerkregtelike probleme blyk te wees met die samewerkingsooreekoms, die kerkraad tot hulp te wees in die soeke na oplossings sodat die gemeente sy doelwit kan verwesenlik. 4. Sou die bediening van die gekombineerde gemeente deur die leraar van die NGK in die interim 'n kerkregtelike probleem blyk te wees, versoek die gemeente die Ring om behulpsaam te wees met die legitimisering van die bediening, met verwysing na die presedent van die bediening van die NG gemeente Observatory en die VG gemeente Ebenezer deur Dr. Ben Kotzé. 5. Die gekombineerde gemeente, wat noodgedwonge steeds as twee afsonderlike regspersone funksioneer, begeer om verder vordering te maak op die pad van hereniging, en versoek die Ring om die gemeente behulpsaam te wees in 'n versoek aan die Sinode om in die kerkorde voorsiening te maak vir volledige hereniging van gemeentes, as 'n interim maatreël tot tyd en wyl hereniging op nasionale vlak 'n werklikheid word.” 5. Die VGKSA Ring van Wynberg het op 22 April 2008 tydens ’n spesiale vergadering die volgende besluit geneem: “Punt 6 van die ooreenkoms tussen die VGK en NGK Wynberg laat homself oop vir misinterpretasie, derhalwe besluit die Ring om hierdie punt in sy geheel te herroep. Hier verwys ons na Bep. 28 na die rol van die Konsulent. Bep.28.4.2” Die besluit van die kerkraad betreffende ampsligte word hiermee “herroep” op grond van die VGKSA Ring se interpretasie van die kerkorde: “Samewerkingsooreenkomste sou dan in geval van VGKSA en NGK Wynberg betrekking het op gesamentlike kommissiewerksaamhede en eredienste – nagmaal; doop; bevestiging van kerkraadslede en lidmate uitgesluit.” 5.1 Volgens die afgevaardigdes van Wynberg het die gekonstitueerde VGKSA Ring van Wynberg nie die getekende versoekskrif van die lidmate en kerkraad van Wynberg in behandeling geneem nie. Die Ring het die besluit geneem sonder om ag te slaan op die getekende uitnodiging van die lidmate van die twee gemeentes om met hulle daaroor in gesprek te tree en die kerkraad tot hulp te wees in die soeke na oplossings. 5.2 Die Ringskommissie of ringspredikante het wel op die versoekskrif gereageer in ’n boodskap wat na die VGKSA Wynberg se kerkkantoor versend is. Die antwoord was volgens die skriba gerig aan die konsulent, Ds. Corrie Klazen. Sy kon nie ’n afskrif daarvan aan die kerkraad gee nie aangesien sy die oorspronklike elektroniese berig vernietig het nadat sy ‘n afskrif daarvan aan die konsulent gegee het. Die konsulent, wat ook voorsitter van die Ring was, het ten spyte van herhaaldelike versoeke, onder andere tydens die gesamentlike kerkraadsvergadering op 3 Junie 2008, nooit die antwoord met die kerkraad of die gemeente bespreek nie. 5.3 Die gemeentes van Wynberg vier reeds sedert 1994 die sakramente saam. Kerkraadslede en lidmate word ook reeds vir etlike jare tydens gesamentlike eredienste bevestig. 5.4 Die VGKSA Ring se aksie om ’n besluit van die VGK Kerkraad van Wynberg “te herroep”, verkeer in spanning met die VGKSA Kerkorde se bepalings met betrekking tot die kassasiereg. Volgens Dr. Plaatjies beskik meerdere vergaderinge van die VGKSA nie oor die bevoegdheid – die kassasiereg – om die beslissinge van ’n mindere vergadering te vernietig nie, maar kan dit met opgaaf van redes terug verwys na die mindere vergadering vir hersiening (Kerkorde VGKSA Streeksinode Kaapland 2002: bep 92).[2] Laasgenoemde bepaling klop met die Gereformeerde kerkreg se siening met betrekking tot die gesag van meerdere vergaderings: “Die Gereformeerde kerkreg staan elke vorm van opperbestuur en heerskappy teen, maar staan die verlening van advies en hulp voor. Die Doleansiekerkreg beklemtoon dat die gesag van meerdere vergaderings daarop berus dat afgevaardigdes van die plaaslike gemeentes daarheen afgevaardig word. Die Doleansiekerkreg is afwysend teenoor ’n hiërargiese bestuurswyse. ’n Sinodale kommissie en of Sinode wat gevolglik as hoë bestuursliggaam optree, is ongehoord in die Doleansiekerkreg”.[3] 6 Die gesamentlike kerkraad het ooreengekom om ’n tweede gesamentlike gemeente-konferensie op 1 Junie 2008 te hou. ’n Gesamentlike kommissie het voor die konferensie vergader en besluit dat drie verskillende moontlikhede oor samewerking en vereniging aan die gemeentes voorgehou sal word: a. Die huidige samewerking word voortgesit. b. Die huidige samewerking word volgens die bestaande reglemente verbreed. c. Die gemeentes herenig in ’n gesamentlike gemeente met behoud van NGK en VGKSA lidmaatskap. Die lidmate wat teenwoordig was, het byna eenparig die derde opsie verkies: naamlik dat die NGK Kerk en VGKSA Wynberg in ’n gesamentlike gemeente moet herenig met behoud van NGK en VGKSA lidmaatskap. Slegs 2 lidmate het die eerste opsie verkies en niemand het vir die tweede opsie gestem nie. Die gesamentlike kerkraad het op 3 Junie 2008 goedgekeur dat die derde opsie verder ondersoek moet word aan die hand van die volgende verklaring: “Ons maak hiermee ons voorneme bekend om die gemeentes van die NG Kerk en VG Kerk Wynberg te herenig deur ’n nuwe gemeente te vorm.
7. Die Kerkraad van Wynberg het die gesamentlike moderatuursvergadering van die NGK en VGKSA versoek “... om ons te help om die struktuur en proses te ondersoek wat aan ons voorneme gestalte kan gee en om saam met ons die nodige kerkregtelike ruimte te skep deur byvoorbeeld vir ’n geassosieerde saam op weg kerkverband voorsiening te maak.” Die moderature het die versoek na die gesamentlike vergadering van die twee streeksinodes se regskommissies verwys en gesamentlike kerkraad van Wynberg genooi om met hulle in gesprek te tree en te help met voorstelle. 8. Die kerkrade van Wynberg se voorstel aan die regskommissies was geskoei op ’n beproefde model wat die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) gebruik wanneer gemeentes van die Nederlandse Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerken in Nederland en die Evangelisch-Lutherse Kerk in het Koninkrijk der Nederlanden verenig. Hiervolgens word ’n gesamentlike of gefedereerde gemeente gevorm. Die kerkrade kom ooreen in watter mate daar oor die hele lewe en arbeid van die gemeentes saamgewerk word. Werksaamhede waar die kerkordes of die gemenereg vereis dat hulle as afsonderlike regspersone moet optree, word uitgesluit. Die gemeentes kan byvoorbeeld nie vaste eiendom saam besit nie omdat hulle aparte regspersone moet bly totdat die sinodes verenig. Die model kan vergelyk word met ’n huwelik wat buite gemeenskap van goedere plaasvind. 9. Hierdie voorstel is aan die regskommissies van die onderskeie sinodes (die gesamentlike PRK/SRK) voorgelê wat op 6 Augustus 2008 vir die eerste keer in hul bestaan saam vergader het. Die gesamentlike PRK/SRK het in ’n brief van 14 Augustus 2008 die kerkrade van Wynberg meegedeel dat die bestaande reglemente, Reglement 6 van die NGK en Reglement 43 van die VGKSA (die NGK en die VGKSA het dieselfde reglement goedgekeur) “...omtrent alles moontlik kan maak wat u graag as gemeentes wil bereik” en versoek dat die ooreenkoms met die reglemente as riglyn opgestel word. Dit was baie goeie nuus vir die kerkrade van Wynberg: dit sou onder andere impliseer dat die bestaande reglemente aan die gemeentes die ruimte bied om saam te werk as ’n gesamentlike gemeente. 10. Die konsepooreenkoms wat voor die die gesamentlike PRK/SRK gedien het, is na aanleiding van hul versoek in ooreenstemming met Reglement 6 van Kerkorde 2007 van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en Reglement 43 van die Kerkorde van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika verwerk. 10.1 Die NGK lede van die Konvent van Wynberg se uitvoerende komitee het voorgestel dat die konvent op 19 Augustus 2008 die nuwe ooreenkoms van samewerking tussen die Wynberg gemeentes in behandeling neem. Dit sou aan die NGK en die VGKSA se Ringe van Wynberg die geleentheid bied om die ooreenkoms saam te beoordeel. Die VGKSA Ring se predikante het die voorstel van die hand gewys. Hulle het op 6 Augustus 2008 aangedui dat hulle dit oorweeg om die konvent op te skort. Die konventvergadering van 19 Augustus 2008 is vervolgens op versoek van die VGKSA predikante gekanselleer. 10.2 Die nuwe weergawe is op 29 Augustus 2008 aan die actuarii gestuur met die volgende boodskap: “Baie dankie vir julle kosbare insette tot dusver. Ek het groot waardering vir die feit dat die gesamentlike regskommissies ons voorstelle oorweeg het. Die konsepooreenkoms is intussen aangepas om aan die vereistes van die reglemente te voldoen. Dit is nog nie finaal nie. Ek het ook besluit om die term ‘federasie’ maar liewers uit te haal – julle sal begryp hoekom! Ek sal enige kommentaar en voorstelle van julle baie waardeer. Ek hoor graag van julle.” 10.3 Geen terugvoering is van die actuarii ontvang nie. 10.4 Die nuwe weergawe van die ooreenkoms is ook aan twee prokureurs gestuur en deur hulle afsonderlik oorweeg en gunstig beoordeel. 10.5 Nadat die wenke van die prokureurs verwerk is, is die ooreenkoms op 31 Augustus 2008 tydens ‘n gemeentekonferensie met die lidmate van die twee gemeentes bespreek. Die konsulent was teenwoordig. Al die lidmate wat teenwoordig was met die uitsondering van een VGKSA lidmaat het die versoek gesteun dat die kerkrade met die ooreenkoms kan voortgaan. 10.6 Die gesamentlike kerkraad het op 2 September 2008 die ooreenkoms eenparig goedgekeur en besluit dat ooreenkoms na die ringe vir oorweging en goedkeuring gestuur word. Die kerkrade het hul besluite aan die einde van die vergadering afsonderlik bekragtig. Die konsulent het in laasgenoemde verband as voorsitter van die VGKSA Wynberg se kerkraad opgetree. 11. Die actuarii is op 4 September oor die goedkeuring van die ooreenkoms ingelig. Die volledige besluit van die kerkraad, insluitende “dat ’n buitengewone gesamentlike kerkraadsvergadering belê word om enige wysigings wat deur die actuarii van die sinodes, ringe, regslui of lidmate aanbeveel word, te oorweeg en goed te keur”, is gekommunikeer. Hulle is soos volg oor verdere wysigings ingelig: “Ek het verneem dat samewerkingsooreenkomste nou die Belydenis van Belhar by name moet noem. Ek het Artikel 5 toe met ’n sub-paragraaf aangepas: Artikel 5. Die gesamentlike gemeente te Wynberg erken die belydenisgrondslag van sowel die Nederduitse Gereformeerde Kerk as die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Die gemeente staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die gemeente in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea, die Geloofsbelydenis van Athanasius, die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreëls en die Belydenis van Belhar. Ek heg die jongste formaat aan. Daar is ’n geringe aantal verbeterings (ook in taal) wat ons prokureur voorgestel het.” 12. Geen terugvoering is van die actuarii ontvang nie. Die Ring van Wynberg van die NGK het die ooreenkoms eenparig op 15 September 2008 goedgekeur. Die Ring van Wynberg van die VGKSA het volgens die konsulent aangedui dat hulle meer tyd nodig het om die ooreenkoms te oorweeg. Hy het na ’n erediens wat hy waargeneem het dit as rede aangevoer waarom die VGKSA Ring van Wynberg nie die ooreenkoms in behandeling geneem het nie. Dit is so in die inligtingsbriewe van 19 en 24 Oktober 2008 aan lidmate deurgegee. 13. Prof Piet Strauss, moderator van die Algemene Sinode van die NGK en dosent in kerkreg aan die Universiteit van die Vrystaat, het op 29 Oktober 2008 die ooreenkoms aangevra en dit bestudeer. Hy het bevind dat dit “aanvaarbaar en billik is”: “Ek dink julle het 'n billike en aanvaarbare konsepooreenkoms. Ek aanvaar ook dat elke gemeente voortgaan binne sy eie kerkverband? Julle bly by julle ring en sinode en die VGKSA-gemeente by hulle eie.” Ek het bevestig dat elke gemeente binne sy kerkverband bly. Dit word duidelik in die ooreenkoms verwoord: 11.1. Die daarstelling van gemeenskaplike doelwitte kragtens hierdie kontraktuele ooreenkoms hef nie die regte en verantwoordelikhede van die onderskeie kerkrade en leraars ten opsigte van die kerkverbande op nie en kan dit nie tot niet verklaar nie. 14. Prof Leo Koffeman, dosent in kerkreg aan die Protestantse Teologiese Universiteit in Utrecht, het ingestem om die Protestantse Kerk in Nederland se eenheidsproses en samewerkingsmodelle tydens ’n konferensie te bespreek wat op Woensdag 5 November 2008 by die NG Kerk Wynberg in samewerking met Communitas (Universteit Stellenbosch) aangebied was. Lidmate, kerkraadslede, predikante en kerkleiers was uitgenooi om dit by te woon. Hy het dit ook op 6 November 2008 met moderatuurslede en lede van die gesamentlike PRK/SRK van die NGK en VGKSA behandel. Die actuarii van die regskommissies het hom aan die einde bedank en aangedui dat hulle dit as besonder insiggewend en positief beleef het. Prof Koffeman het na die konferensies die ooreenkoms tussen die Wynberg gemeentes bestudeer en sekere wenke en voorstelle ter verbetering aanbeveel. Die ooreenkoms is daarvolgens aangepas en soos volg op 13 November 2008 aan die actuarii deurgegee: “Baie dankie vir julle teenwoordigheid en entoesiastiese deelname aan ons konferensie! Hierby aangeheg is ons aangepaste ooreenkoms wat insluit sekere inhoudelike wysigings wat Prof Leo Koffeman voorgestel het (hy het saam met my in detail deur die hele dokument gegaan – wat ’n voorreg om sy insette te kry!) asook die nuwe formulering vir die belydenisgrondslag.” 15. Geen terugvoering is van die actuarii ontvang nie. Die gesamentlike PRK/SRK het die Ringspredikante van die VGKSA Wynberg, die ringskommissie van die NGK Wynberg asook drie kerkraadslede van die VGKSA Wynberg op 13 November 2008 in Belhar ontmoet. Die geleentheid het op uitnodiging van die gesamentlike PRK/SRK plaasgevind. Die vergadering het kennis geneem dat die NGK se Ring van Wynberg die samewerkingsooreenkoms tussen die VGKSA en die NGK Wynberg goedgekeur het. Die predikante van die VGKSA se Ring van Wynberg het die vergadering ingelig dat die Ring nie die ooreenkoms, wat van Dr Nel namens die gesamentlike kerkraad ontvang is, in behandeling geneem het nie aangesien dit volgens hulle nie langs die regte weg op hul tafel gekom het nie. Die ooreenkoms het volgens hulle Dr. Nel se handtekening gehad en nie ook die konsulent se handtekening nie. Hulle het ook aangevoer dat die VGKSA Wynberg nie afsonderlik gekonstitueer het om die ooreenkoms goed te keur nie. 15.1 Die reglement bepaal “Die betrokke kerkvergaderinge/kommissies moet die skriftelike ooreenkoms afsonderlik in hulle onderskeie vergaderinge goedkeur.” Die kerkrade het hul besluit om die ooreenkoms goed te keur, aan die einde van die gesamentlike vergadering afsonderlik in mekaar se teenwoordigheid bekragtig nadat ’n voorstel ingedien en gesekondeer is. 15.2 Die ooreenkoms het op twee wyses op die tafel van die Ring beland: per e-pos van Dr. Nel namens die gesamentlike kerkraad (ongeteken) asook deur die afgevaardigde van Wynberg wat persoonlik kopieë vir elke afgevaardigde aan die skriba met die aanvang van die vergadering oorhandig het. 15.3 Volgens Dr. Plaatjies word ’n hoër beroep in die VGKSA nooit sonder meer op blote formele of tegniese gronde gehandhaaf nie, tensy daar ook bewys gelewer is dat die beweerde oortredings deur die mindere kerkvergaderinge van die Bepalinge en Reglemente die beswaarde(s) benadeel het of veroorsaak het dat die meriete van die saak nie behoorlik beoordeel kon word nie (Kerkorde VGKSA Streeksinode Kaapland 2002: bep 107.2.1-107.2.2).[4] 15.4 Die vergadering het die kerkrade versoek om die ooreenkoms afsonderlik in aparte lokale goed te keur sodat die VGKSA Ring van Wynberg dit in behandeling kan neem. 16. Vir die kerkrade van Wynberg was die versoek om die ooreenkoms afsonderlik in aparte lokale goed te keur, aanvanklik geen probleem aangesien die voorgestelde verbeterings van Prof. Koffeman in elk geval goedgekeur moes word. 16.1 Die NGK Kerkraad van Wynberg het die gewysigde ooreenkoms op 19 November 2008 goedgekeur. 16.2 Die VGKSA Kerkraad van Wynberg wou die gewysigde ooreenkoms op 13 November 2008 goedgekeur, maar moes volgens kerkraadslede eers kennis van revisie gee. 16.3 Kerkraadslede van die VGKSA het by die gesamentlike kerkraadsvergadering van 3 Februarie 2009 aangevoer dat hulle nog nie die geleentheid gegun was om die ooreenkoms te behandel nie. 16.4 Die gesamentlike kerkraad het op 5 Mei 2009 kennis geneem dat die ooreenkoms nog nie deur die VGKSA kerkraad behandel is nie. Volgens die notule sou dit op by die VGKSA se kerkraadsvergadering van 5 Feb 2009 bespreek word. As gevolg van verskeie meer dringende kwessies (soos die beroeping van ’n predikant, kerkraadsverskuiwings en ander bestuursprobleme) het dit nie plaasgevind nie. Die NGK kerkraad het gevra dat die VGKSA kerkraad ’n besluit oor die ooreenkoms op die volgende VGKSA kerkraadsvergadering se agenda sal plaas. Ds. Corrie Klazen, konsulent van die VGKSA Wynberg, het volgens die notule gesê dat die kerkraad die ooreenkoms moes deurgaan, alle kwessies bespreek en opklaar, die ooreenkoms onderteken indien hul tevrede is en dit dan na die Ring aanstuur. Die NGK moet dan kennis kry oor die VGKSA se besluit. Hy het bygevoeg dat dit belangrik is om die regte prosedures te volg, al neem dit tyd. 16.5 Die gesamentlike kerkraad het op 8 September 2009 kennis geneem dat die ooreenkoms nog steeds nie deur die VGKSA kerkraad behandel is nie. Volgens kerkraadslede van die VGKSA sou dit wel op 15 September 2009 plaasvind. 16.6 Dr. M.A. Plaatjies en ringsleraars van die VGKSA was teenwoordig toe die ooreenkoms deur die VGKSA kerkraad op 15 September 2009 behandel is. Dr. Plaatjies het volgens kerkraadslede haar dokument (Verloop van die Wynberg aangeleentheid) met die VGKSA kerkraad behandel waarin sy tot die volgende gevolgtrekkings kom: “Die huidige gesamentlike gemeente is dus nie kerkregtelik na behore gereguleer nie.” “Die ooreenkoms kan nie kerkregtelik goedgekeur word nie aangesien dit lynreg teenoor etlike bepalinge van beide die NGK en VGKSA staan.” 17. Ds. Theron het op 10 Februarie 2009 gereageer deur my in te lig dat die SRK op 9 Maart 2009 vergader en dat die regskommissie dan die ooreenkoms bespreek. Hy was nog besig om met Dr. Plaatjies te onderhandel of die PRK daardie dag saam met die SRK sou kon vergader. Hy was van mening dat hy en Dr. Plaatjies voor die vergadering eers saam met my moet vergader. Dit het aanleiding gegee tot ’n ontmoeting by ’n restaurant in Claremont op 20 Februarie 2009. Ds. Theron het my ingelig dat die regskommissies ’n regsfirma genader het om advies. Volgens die prokureur kan die ooreenkoms nie regstegnies goedgekeur word nie. Ds. Theron kon nie die prokureur se opinie aan my deurgee nie aangesien dit volgens hom eers voor die gesamentlike PRK/SRK moes dien. Ds. Theron en Dr. Plaatjies het versoek dat die ooreenkoms in lyn met reglement 6.5 van die NGK en reglement 42 van die VGKSA opgestel word wat volgens hulle sou beteken dat die gemeentes wel kan saamwerk ten opsigte van sekere terreine, maar dat hulle steeds selfstandig moet kan funksioneer. Die kerkrade sal ook steeds afsonderlik moet vergader. Wanneer hulle wel gesamentlik vergader, moet alle besluite afsonderlik bekragtig word. Ek het op grond van die volgende redes nie daarvoor kans sien nie: a. Dit bied geen vooruitgang op die huidige praktyk van samewerking tussen die gemeentes nie. b. Die lidmate het dit afgewys tydens die gemeentekonferensie van 1 Junie 2008. Die versoek van die actuarii sou impliseer dat hulle ’n terugwaartse stap teen hulle wense moet neem. c. Ek deel die lidmate se oortuiging, soos verwoord in die verklaring van voorneme wat deur ’n kerkraadslid tydens die konferensie voorgestel en deur hulle goedgekeur is, dat die hereniging van die Wynberg gemeentes na ’n groeiproses van sewentien jaar nie langer uitgestel kan word nie en dat die Here ons nou daartoe roep om ’n gesamentlike gemeente te vorm – ons kan nie anders nie. d. Die regsadvies wat deur die gesamentlike PRK/SRK aangevra is, het verskil van twee ander prokureurs se mening asook Prof. Piet Strauss se opinie. Ek het versoek dat die inhoud van die regsadvies aan die kerkrade beskikbaar gestel word en dat die gesamentlike PRK/SRK die spesifieke regsprobleme aan die kerkrade sal kommunikeer. 18. Die actuarius van die VGKSA het op 7 Maart 2009 ’n versoek aan die konsulent van die VGKSA Wynberg en Ring van Wynberg VGKSA gerig tot ‘n gesamentlike fasiliteringsgesprek met onderskeidelik die kerkrade van die NGK/VGKSA en die Ringskommissies van die NGK/VGKSA. 18.1 Die geleentheid het op 15 April 2009 plaasvind. Die NGK kerkraad is verteenwoordig deur broers Willie Koen, Robert Nicholas, Francois van Eeden en Dr. Nel. Die NGK se Ringskommissie van Wynberg en Ds. Hannes Theron (actuarius) was ook teenwoordig. Die VGKSA Ringskommissie en VGKSA kerkraad se dagbestuur het nie die vergadering bygewoon nie: die notule van die gesamentlike kerkraadsvergadering op 5 Mei 2009 het hul afwesigheid toegeskryf aan ‘n onvolledige en te kort kennisgewing deur die konsulent en ‘n misverstand oor wie daarby betrokke sou wees. 18.2 Die VGKSA Ringskommissie het volgens Dr. Plaatjies geweier om goedkeuring vir afsonderlike en gesamentlike gesprekke te gee maar het ingestem tot ‘n ontmoeting met die actuarius van die VGKSA om aandag aan die kerkregtelike problematiek te gee (Vergelyk punte 56 en 57 van haar oorsig). 18.3 Aan die einde van die byeenkoms het ek weer ’n versoek aan Ds. Theron gerig om die inhoud van die regsadvies bekend te maak. Hy het aangedui dat hy dit by ’n gesamentlike ontmoeting van NGK/VGKSA Wynberg se kerkraadslede en die NGK/VGKSA Wynberg se ringskommissies met die actuarii wou bespreek. 19. Ek het naas die versoek op 20 Februarie 2009 by vier geleenthede gevra dat die inhoud van die regsmening betreffende die ooreenkoms van die Wynberg gemeentes bekend gemaak sal word. 19.1 Tydens die moderamen se vergadering op 24 Maart 2009 het Ds. Theron ’n voorbeeld aan my genoem wat die prokureur as ’n probleem geïdentifiseer het: Wynberg se ooreenkoms verwys na ’n federasiegemeente terwyl die kerkorde nie die begrip ken nie. Dit het my bekommer aangesien ek reeds in ’n skrywe van 29 Augustus 2008 gemeld het dat die konsepooreenkoms aangepas is om aan die vereistes van die reglemente te voldoen en dat die term “federasie” uitgehaal is (vergelyk punt 1.10). Ek het Ds. Theron gevra om die spesifieke inhoud van die regsmening aan die kerkrade bekend te maak sodat hulle daarop kon reageer. 19.2 Die VGKSA moderatuur het na aanleiding van my brief van 29 Januarie 2009 die moderatuur van die NGK versoek om iemand aan te wys om my pastoraal te begelei. Ds. Monthy Sahd is aangewys. Hy het my tydens die begeleiding op 14 Mei 2009 gevra of hy enige versoek namens my kon oordra. Ek het gevra dat die actuarius versoek sou word om die regsprobleme wat die prokureur geïdentifiseer het, aan die kerkrade bekend te maak. 19.3 Ek het aan die einde van die byeenkoms van 15 April 2009 weer ’n versoek aan Ds. Theron gerig om die inhoud van die regsmening oor die ooreenkoms van die Wynberg gemeentes bekend te maak. Hy het aangedui dat dit by ’n gesamentlike ontmoeting sal gebeur (Vergelyk 1.20). 19.4 Aangesien die wysigings wat deur Prof. Koffeman voorgestel is ook deur die NGK Ring van Wynberg op 13 en 14 September 2009 goedgekeur moes word en ’n reglement voor die ringsvergadering sou dien wat op die PKN model gegrond was, het ek tydens die ringsvergadering vir Ds. Theron geskakel om ’n aanduiding van die regsproblematiek te gee. Ek het my dilemma aan hom verduidelik en hy het aangedui dat die regsprobleme nie van so aard is dat dit die voorlegging aan die ring in gedrang hoef te bring nie. Ek het toe aan die ring gekommunikeer dat hoewel daar nog sekere uitstaande kerkregtelike kwessies is wat aandag moet kry, ek die dokumente tog laat dien en dat die wysigings wat die gesamentlike PRK/SRK sou voorstel, dan by ’n latere geleentheid weer voor die Ringsvergadering sal dien. 20. Die VGKSA kerkraad is deur Dr. Plaatjies, die actuarius van die VGKSA se Kaaplandse streeksinode, oor die aard van die regsprobleme met die ooreenkoms ingelig toe die VGKSA kerkraad die ooreenkoms op 15 September 2009 wou behandel – nadat kennis van revisie reeds op 13 November 2008 gegee is. Die ringsleraars van die VGKSA was ook teenwoordig. Volgens Dr. Plaatjies kan die ooreenkoms tussen die NGK Wynberg en VGKSA Wynberg ten opsigte van 'n gesamentlike gemeente kerkregtelik nie goedgekeur word nie aangesien dit “lynreg teenoor etlike bepalinge van beide die NGK en VGKSA staan”. Die regskommissies het volgens haar op grond van die “regsadvies van prokureursfirma” soos volg besluit: “Dat die Reglement van die gesamentlike gemeente Wynberg iets probeer bereik wat buite die draagwydte van die bepalings van reg 6.5 van die Algemene Sinode van die NGK en reg 43 van die kerkorde van die VGKSA Streeksinode Kaapland is." Dr. Plaatjies het ook tot die volgende konklusie gekom: “Die huidige gesamentlike gemeente is dus nie kerkregtelik na behore gereguleer nie.” 20.1 ’n VGKSA kerkraadslid het tydens die aanddiens op Sondag 20 September 2009 by Buitenverwachting die volgende opmerking voor die aanwesige lidmate gemaak: “Ons het by die kerkraadsvergadering gehoor dat dit wat ons gemeentes doen, eintlik onwettig is.” 20.2 Ek het Ds. Theron op 23 September 2009 geskakel om te verneem waarom die regsprobleme nie ook aan die NGK kerkraad bekend gemaak is nie. Hy het onderneem om Dr. Plaatjies te skakel en sou daarna terugvoering gee. Hy het my op 23 Oktober 2009 ingelig dat hy steeds nie terugvoering kon gee nie. 20.3 Dr. Plaatjies beveel in die laaste paragraaf aan dat haar beoordeling skriftelik en mondelings aan beide kerkrade en ringe deurgegee word. 21. Kerkraadslede van die VGKSA Wynberg het op 3 November 2009 tydens die gesamentlike kerkraadsvergadering terugvoering gegee oor die vergadering van 15 September 2009 met die VGKSA actuarius en die VGKSA ringsleraars. Volgens die kerkraadslede was dit onder andere aan hulle gestel dat die gemeentes steeds aparte eredienste moet hou naas die gesamentlike dienste. Dit wou voorkom asof daar van die gemeentes verwag word om terugwaartse stappe te neem oor ’n aangeleentheid waaroor die kerkrade en lidmate reeds in Julie/Augustus 2007 konsensus bereik het. 22. Die kerkraad van die NGK Wynberg het in ’n brief, gedateer 30 Oktober 2009 en gerig aan die regskommissies van die streeksinodes (PRK/SRK), gereageer op die kerkregtelike evaluering van die ooreenkoms tussen die NGK Wynberg en die VGKSA Wynberg, soos gedoen deur die actuarius van die VGKSA se Kaaplandse streeksinode, Dr. M.A. Plaatjies. Sy beveel aan die einde van haar dokument aan dat dit skriftelik en mondelings aan beide kerkrade en ringe deurgegee word. Die kerkraad het soos volg gereageer: 22.1 Die kerkraad versoek dat die regsadvies van die prokureursfirma waarna Dr. Plaatjies verwys, aan die kerkraad beskikbaar gestel word. 22.2 Die kerkraad spreek sy onsteltenis uit oor die uitspraak van die VGKSA se actuarius dat die Wynbergse gemeentes skynbaar volgens die bepalings en reglemente van die kerkorde verplig word om “in sy eie sake selfstandig” voort te bestaan terwyl hulle bereid was om hul selfstandigheid in navolging van Christus se gebed en die Belydenis van Belhar prys te gee. Dit impliseer dat die huidige bepalings en reglemente die gemeentes dwing om die belydenisgrondslag te verloën, aangesien daar met name in die Belydenis van Belhar bely word “dat alles wat die eenheid mag bedreig, gevolglik geen plek in die kerk van Christus mag hê nie”. 22.3 Aangesien die kerkraad geen gronde vir die uitspraak dat elke gemeente “in sy eie sake selfstandig” moet bly in die betrokke reglemente vind nie, versoek die kerkraad die gesamentlike PRK/SRK om die spesifieke regsprobleem aan te dui. Die kerkraad verneem graag hoe die ooreenkoms se onderliggende beginsel, naamlik dat die gemeentes in al hul werksaamhede saamwerk behalwe waar die Kerkorde en die gemenereg dit vereis dat hulle as afsonderlike regspersone moet optree, strydig sou wees met die bepalings en reglemente van die betrokke kerkordes of die gemenereg. Die kerkraad verneem ook graag na die gronde van die actuarius se uitspraak, naamlik dat “Elkeen van die kontrakterende gemeentes behoort in sy eie sake selfstandig voort te bly bestaan”. 22.4 Die kerkraad versoek die gesamentlike regskommissies (PRK/SRK) om 'n tussentydse ooreenkoms as ’n tussentydse reëling te beoordeel en terugvoering aan die kerkrade van Wynberg te gee. Hierdie reëling maak voorsiening vir ’n gesamentlike gemeente waarin twee wyksgemeentes saamwerk. ‘n Gesamentlike kerkraad behartig die gesamentlike bediening. Wykskerkrade behartig die eie regspersoonlike sake sowel as die leiding van die wyksgemeente en moet ook die besluite van die gesamentlike vergaderings bekragtig. Hoewel hierdie reëling ’n tussentydse oplossing “ter wille van die swakheid van sommige bepalings” sou bied, sou dit nie die gemeentes se probleem oplos nie aangesien twee identiteite in die gesamentlike gemeente gehandhaaf word. 22.5 Die regskommissies het die kerkraad se brief nie beantwoord nie. Ds Theron het wel per brief gedateer 14 Februarie 2010 op 'n versoek ter verduideliking van die bekendmaking van die dokument waarna in punt 24 verwys word, gereageer. 23. Die NGK kerkraad van Wynberg was op daardie moment onbewus dat Ds. Hannes Theron op 9 Maart 2009 in sy hoedanigheid as actuarius van die NG Kerk se Wes- en Suid-Kaapse Sinode aan die regskommissies 'n dokument voorgelê het met die titel "Kommentaar van die Sinodale Regskommissie (NG Kerk) en die Permanente Regskommissie (VG Kerk) op die ooreenkoms tussen die gemeente Wynberg (NG Kerk) en die gemeente Wynberg (VG Kerk)”. Die standpunt oor Wynberg se gesamentlike dienste was soos volg geformuleer: “1.1 die sorg vir die diens van die Woord en die sakramente; Dit kan tog nie. Hierdie is tog ‘n wesensverantwoordelikheid van die eie Kerkraad. Die verkondiging van die Woord is immers reeds die eerste van die twee sleutels wat aan die kerk gegee is. As tughandeling kan dit tog nie gedelegeer word nie. Hierdie is ook een van die redes waarom 'n gemeente op ‘n gereelde grondslag haar eie erediens moet hou sodat die gemeente onder die tug van die Woord kan kom. Natuurlik is elke erediens oop vir almal. Natuurlik kan daar gesamentlike eredienste wees. Selfs op 'n gereelde grondslag. Maar dit kan die eie erediens nie vervang nie.” Volgens Ds. Samuels, leraar van die VGKSA Wynberg, het hy die dokument saam met ander dokumentasie ontvang nadat hy as leraar op 27 September 2009 bevestig is. Volgens Ds. Sarel Christians, 'n leraar van die VGKSA Ring, het die actuarius van die VGKSA die dokument met die kerkraad van die VGKSA Wynberg en met die VGKSA ringsleraars behandel. Die NGK kerkraad van Wynberg het per toeval van die dokument se bestaan bewus geraak nadat Ds. Samuels, leraar van VGKSA Wynberg, dit op 10 Februarie 2010 aan die leraar van die NGK Wynberg oorhandig het. Ds. Samuels, sy kerkraad en sy VGKSA ringskollegas het gemeen dat die NGK lede ook die dokument ontvang het. Hulle het dit vreemd gevind dat die NGK kerkraad steeds by sekere reëlings van die samewerkingsooreenkoms staan wat uitdruklik deur die regskommissies afgewys is. 24. Die NGK kerkraad van Wynberg het onmiddelike aksie geneem nadat hy van die dokument se bestaan bewus geraak het. Die Uitvoerende Bestuur het ’n versoek ter verduideliking aan Ds. Hannes Theron gerig. Ds. Theron het die status van die dokument soos volg verduidelik: "Die kommentaar van mnr Klopper is nooit deur die NGK/VGK aanvaar as hul amptelike standpunt of as ’n amptelike advies van ’n prokureur nie." Ds Theron se weergawe word deur Dr. Plaatjies se verslag (paragraaf 54 van haar uiteensetting van die verloop) weerspreek. Die regskommissies het volgens haar op grond van die “regsadvies van prokureursfirma” (die dokument) soos volg besluit: “Dat die Reglement van die gesamentlike gemeente Wynberg iets probeer bereik wat buite die draagwydte van die bepalings van reg 6.5 van die Algemene Sinode van die NGK en reg 43 van die kerkorde van die VGKSA Streeksinode Kaapland is. In die daarstelling van ooreenkomste moet beklemtoon word dat die oorspronklike regspersone moet bly staan.” Betreffende die rede waarom hy nie op die herhaalde versoeke van die kerkraad gereageer het nie, beweer Ds. Theron die volgende: "Dit blyk dit dat daar lede van die VGK Wynberg is wat nie gemaklik is met die proses nie en dat die ring van die VGK Wynberg dit om bepaalde redes nie kan aanvaar nie." Volgens hom oordeel die actuarii "dat ’n helings- en versoeningsproses uiters noodsaaklik is voordat daar enigsins met die proses voortgegaan kan word." Hy verduidelik sy versuim om kommentaar te lewer soos volg: "Dit het op die stadium vir my geen sin om enige kerkregtelike uitsprake oor die ooreenkoms te maak nie, alvorens daar nie tot ’n helings- en versoeningsproses ooreengekom word nie." Dit was vir die kerkraad, wat op daardie moment dankbaar was oor die goeie verhoudinge wat opgebou is, vreemd dat die actuarii tot hul oordeel kon kom sonder om met die kerkraad in gesprek te tree. Ds. Theron het ook nog nie die kerkraad se versoek om die gronde en omvang van die VGKSA lede se ongemak aan te dui, beantwoord nie. Op grond van sy reaksie het die Uitvoerende Bestuur in ’n brief gedateer 21 Februarie 2010 hul op die gebed van Christus (Joh 17) en die Belydenis van Belhar (Artikel 2) beroep en ’n dringende versoek aan die regskommissie gerig. Dit is tot op datum (19 Augustus 2010) na verloop van vyf maande nog nie beantwoord nie. 25. Die regskommissies se dokument het sedertdien tot twee belangrike besluite van die VGKSA kerkraad op 8 April 2010 bygedra:
26. Die NGK kerkraad het in sy reaksie per brief gedateer 24 April 2010 verklaar dat hy verbonde bly aan die eenparige versoek tot hereniging wat die lidmate tydens die eerste gesamentlike gemeentekonferensie op 13 April 2008 goedgekeur en onderteken het. Die kerkraad het sy kommer uitgespreek dat die VGKSA Kerkraad se besluit dat daar voortaan slegs na “samewerking” verwys moet word, afwyk van die inhoud en die gesindheid van die lidmate se versoek. Die kerkraad het aangedui dat die lidmate juis gekies het vir hereniging in ’n gesamentlike gemeente omdat hulle begeer het om vordering te maak. Hulle was soos verloofdes wat wou trou om ’n nuwe huis te begin. Hulle wou nie aangaan om beurte te maak om by die ouers se huise te kuier nie. Hulle het daarom teen die voortsetting van die huidige samewerking gestem omdat ’n NGK identiteit en ‘n VGKSA identiteit steeds gehandhaaf word. Die kerkraad het daarom volstaan by die verklaring van voorneme van 1 Junie 2008 dat die vorming van ’n gesamentlike gemeente nie langer uitgestel kan word nie. Die kerkraad het ook aangedui dat hy nie meer sy weg oopsien om slegs die huidige samewerking te handhaaf nie. In aansluiting by die metafoor van 'n verlowing het die kerkraad geskryf:
Die kerkraad het versoek dat sy reaksie biddend oorweeg sou word en dat die saak verder by die gesamentlike kerkraadsvergadering op 4 Mei 2010 bespreek sou word. 27. Die gesamentlike kerkraadsvergadering het op 4 Mei 2010 na 'n bespreking van beide kerkrade se standpunte aanbeveel dat die samewerking voortgaan en dat die VGKSA op die Sondae wanneer die gesamentlike dienste om 09:30 in die NG Kerk se gebou plaasvind, dienste om 08:30 vir VGKSA lidmate aanbied wat nie na die gesamentlike dienste wil kom nie. 28. Die kerkraad van die VGKSA Wynberg het op 7 Augustus 2010 besluit om die samewerking tussen die twee gemeentes op te skort omdat verhoudinge volgens die kerkraad se oordeel "aan skerwe lê en stukkend is". Die kerkraad het sy besluit geformuleer as 'n tydelike moratorium op alle samewerking totdat verhoudinge "deur middel van arbitrêre bemiddeling" verbeter kan word. Die pad van samewerking kan ook slegs hervat word "wanneer die NG Kerkraad se amptelike besluit van 23 April 2010" verander sal word. Lidmate is tydens die gesamentlike diens op 8 Augustus 2010 ingelig dat die VGKSA voortaan sy dienste om 09:30 elke Sondagoggend in sy kerkgebou gaan aanbied en dat daar vir die VGKSA kinders die volgende Sondag afgekondig sal word waarheen hulle vir kategese moet gaan. Die NGK kerkraad is per brief op Dinsdag 10 Augustus 2010 oor die moratorium ingelig. Ds. Samuels en een van sy ouderlinge het die gebeure ook aan die pers bekend gemaak. Rapport het op 15 Augustus 2010 ’n artikel dooroor gepubliseer onder die opskrif “Gemeentes skei”. Ds. Samuels word soos volg aangehaal: “Ons praat nie meer nie. Ons is definitief nie meer op dieselfde bladsy nie; verhoudinge het uitmekaargeval.” Ds. Samuels sê volgens die artikel dat hy en sy kerk nie saamstem met die dokumente oor eenwording wat die NGK-leraar, ds. Danie Nel, destyds opgestel het toe die kerke een geword het nie. “Dit het gebeur toe daar ’n vakante pos in die VGK was en ons kwesbaar was. Ons het géén insae daarin gehad nie. Dis duidelik die VGK en die NGK praat verskillende tale.” Ouderling Anne Ehrenreich van die VGKSA beweer in die artikel: “Hulle skenk geld, maar staan nie saam met ons agter die kospotte en basaartafels nie. Ons wil nie net die witmense se geld sien nie – ons wil hul gesigte sien.” 29. Die NGK kerkraad het sy lidmate by wyse van 'n inligtingsbrief gedateer 17 Augustus 2010 oor die tragiese gebeure ingelig. In antwoord op die brief van die Kerkraad van die VGKSA Wynberg verwys die Kerkraad van die NGK Wynberg na hul belewenis van die onderlinge verhoudinge:
Die Kerkraad reageer soos volg op Ds. Samuels en Ouderling Ehrenreich se bewerings:
Betreffende die opskorting van alle samewerking deur die kerkraad van die VGKSA Wynberg reageer die kerkraad van die NGK Wynberg soos volg:
30. Die berig in Rapport van 15 Augustus 2010 het tot verdere persberigte gelei. Ds. Trevor Links het ’n artikel in Rapport van 28 Augustus 2010 geskryf met as titel ‘Hier stehe ich’ oor kerkhereniging. Ds. Links is die leraar van die VGKSA St. Helenabaai wat besig is met ’n herenigingsproses met die NGK Laaiplek. Die Moderatuur van die Algemene Sinode van die VGKSA het gereageer met 'n persverklaring, maar Rapport het volgens URCSA News geweier om dit te publiseer. Die Moderatuur het dit toe in URCSA News van 1 Oktober 2010 laat publiseer. Die Kerkbode het na aanleiding van die berig van 15 Augustus in Rapport en die NG Kerk se inligtingsbrief aan sy lidmate betreffende die opskorting, sekere vrae aan Dr. Nel gestel en op 3 September 2010 daaroor berig. Rapport het ook ’n verdere onderhoud met Ds. Samuals en Ds. Sarel Christians van die VGKSA se Ring van Wynberg gevoer wat op 12 September 2010 gepubliseer is. URCSA News het twee artikels oor die proses in Wynberg op 1 Oktober 2010 gepubliseer. Die een verduidelik hoe die moratorium die eenheidsproses tussen gemeentes raak, en die ander bevat 'n verklaring deur die VGKSA se Ring van Wynberg. Die Kerkbode het op 1 Oktober 2010 in sy hoofartikel berig oor hoe kerkregtelike reëls die eenheidsproses tussen gemeentes benadeel. Die volledige artikels met kommentaar kan op die bladsy Persberigte gelees word. 31. Die VGKSA se webwerf het 'n toespraak van Prof Dirkie Smit oor die betekenis van die Belhar-belydenis ten opsigte van kerkeenheid, wat op 29 September 2010 by die VGKSA se Kaaplandse Streeksinode gelewer is, gepubliseer. Hy het volgens Dr. Johan Botha 'n staande ovasie ontvang. Prof. Smit maak daarin die volgende opmerking:
Dit is waarvoor veel lidmate van Wynberg gehoop en gebid het. As die kerklike vergaderings en kommissies van die VGKSA en die NGK dit ter harte neem, kan daar weer vordering kom. Dit lyk of Wynberg se beroep op die belydenisgrondslag uiteindelik gehoor word. 32. Op 15 Oktober 2010 het die Kerkbode berig dat daar veral op voetsoolvlak in die Wes- en Oos-Kaap toenemende aandrang by lidmate en predikante is dat die NG Kerkfamilie se leierskap die struikelblokke uit die weg moet help ruim. Diegene wat ten gunste van kerkeenheid is, sê kerkordes, individue en vergaderings durf nie die eenheidsproses langer vertraag nie. Dít het duidelik geword tydens die jongste sitting van die Kaaplandse Sinode van die VGK wat in Belhar, Kaapstad, gehou is. 33. Hoewel die VGKSA Kerkraad alle samewerking tussen die gemeentes opgeskort het, gaan die gesamentlike gebedsgroep van die gemeentes voort om elke Dinsdagaand in die pastorie van die NG Kerk te vergader. Die gesamentlike orkes funksioneer ook steeds saam. Die NG Kerk se dienste word ook steeds deur verskeie VGKSA lede besoek. Die onderlinge verbondenheid tussen die lidmate was veral by die lentetee en potjiekoskompetisie sigbaar. Bruin en wit gaan by wyse van vrye assosiasie voort om in harmonie en vrede die Here saam te dien. Danie Nel, 3 November 2010
[1] Vergelyk Artikel 7 van die VGKSA Kerkorde 2001. [2] Plaatjies-Van Huffel, M-A, Die Doleansiekerkreg en die kerkreg en kerkregering van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerke en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, Akademiese Proefskrif UP, Pretoria 2008, 481. [3] Plaatjies-Van Huffel 2008, 441-442. [4] Plaatjies-Van Huffel 2008, 480. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|