NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Versoening

 

Tuisblad
Terug

 

Die proses van versoening

Die versoening tussen die NG Kerk Wynberg en die NG Sendingkerk Wynberg (nou die VG Kerk Wynberg) het nie oornag gekom nie. Dit was die resultaat van ‘n proses van saam bid, saam praat, saam bely en saam doen. Kerkraadslede het dikwels spontaan getuig dat hulle die greep van die Heilige Gees op ‘n heel besondere wyse beleef het tydens die vergaderings, eredienste, pinksterbidure en nagmaalvierings. 

Die eerste tree is tydens die kerkraadsvergadering van die NG Kerk Wynberg op 21 November 1990 geneem waartydens ‘n voorstel aanvaar is dat 'n afvaardiging van beide kerkrade mekaar moet ontmoet om 'n agenda rondom 'n visie vir kerkeenheid op te stel. Hierdie ontmoeting het op 23 Januarie 1991 in die seminaarsaal van die NG Kerk Wynberg plaasgevind. Al die kerkraadslede van beide gemeentes was genooi om die historiese ontmoeting by te woon. Dit het afgeskop met ‘n gebedsbyeenkoms wat ook deur lidmate van die NG Kerk bygewoon is. Stoele moes by die seminaarsaal ingedra word om almal te huisves. Daarna het die groep verdaag vir tee en gemoedelike samesyn.

Die leraars van die gemeentes, Ds. Russel Botman van die NG Sendingkerk en Dr. Danie Nel van die NG Kerk, het gesamentlik as voorsitters opgetree. Die afgevaardigdes het openhartig oor die vervreemding van die verlede, die standpunte van die onderskeie sinodes met betrekking tot kerkeenheid, onderlinge gesindhede en moontlike samewerking in die toekoms gesels. Die gesamentlike vergadering het ‘n kommissie aangewys wat die onderskeie kerkrade in hierdie verband met aanbevelings moes dien. Die NG Sendingkerk is verteenwoordig deur S. Erasmus, V. Pitt, M. Williams en Ds. Russsel Botman en die NG Kerk deur R. Hiemstra, P. Kloppers, P. van Zyl en Dr. Danie Nel.

 Beide kerkrade het die voorstel van die gesamentlike kommissie aanvaar dat die twee gemeentes een maal per maand saam aanddienste sal hou, dat daar een maal per kwartaal kanselruiling sal plaasvind, dat die twee kerkrade een maal per jaar saam sal vergader en dat daar ook gesamentlike gebedsbyeenkomste gereël moet word.

 Die proses was nie sonder probleme nie. Dit was vir beide gemeentes moeilik om die verlede in die oë te kyk, maar dit moes op versoek van kerkraadslede van die NG Sendingkerk gedoen word om diepte aan die versoening te gee. Die twee gemeentes het ook  tydens ‘n gesamentlike aanddiens in 1992 die inhoud van die Belydenis van Belhar bespreek.  Sommige lidmate van die NG Sendingkerk se pyn oor die verlede het daartoe gelei dat die kerkraad van die NG Sendingkerk besluit het dat ‘n gesamentlike nagmaalsviering nog nie wenslik was nie. Die NG Kerk het ook ‘n aantal kerkraadslede en lidmate in die proses verloor. Die bywoning van gesamentlike dienste was ook nie altyd na wense nie. Die proses het  voortgegaan ten spyte van spanning, innerlike konflik en talle foute wat begaan is.

Die gesamentlike projekte van die twee gemeentes het gaandeweg meer geword. Die eerste gesamentlike nagmaalsdiens wat op 21 Mei 1994 om 09:30 tydens die pinksterfees plaasgevind het, was ‘n geleentheid wat sommige lidmate emosineel aangegryp het. Hierdie nagmaal sal onthou word as die viering van die versoening. Die gereelde gesamentlike aanddienste, kommissievergaderings, pinksterbidure en kanselruilings het die verhouding tussen die twee gemeentes steeds sterker laat word.

Sedert die bevestiging van Ds. James Buys as leraar van die VG Kerk in Wynberg op 10 Desember 1994 het die versoeningsproses ‘n nuwe dimensie beleef. Na sy verkiesing as moderator van die Algemene Sinode van die VGKSA het die getuieniskrag van die versoeningsgebeure in Wynberg sterker na vore begin kom.  Waar dit in 1992 gelei het tot die stigting van die Konvent van Wynberg op Ringsvlak, het dit  in 2001 gedien as model vir die Konvent vir Eenheid op Sinodale vlak.

 

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 09/03/10