|
|
|
|
Vervreemding Ds D.P. Botha was leraar van die NG Sendinggemeente van Wynberg vanaf 1948 tot 1960. Volgens hom het die gemeente in 1958 soos volg uitgesien:
Die groepsgebiede wat later geproklameer is (1962), het die gemeente 'n groot knou gegee. Die groot wyke wat in Constantia, Bergvliet, Plumstead en Wynberg was, het weens die (gedwonge) verskuiwing van lidmate tot niet gegaan. Ds. Botha het eersterangse ervaring van die tragiese omstandighede waarin baie bruin mense hulle toe bevind het aangesien hy die belange van die NG Sendingkerk voor die Kommissie vir Groepsgebiede verdedig het. Die eerste "groepsgebiedeverhore" het in 1954 in Bellville en in 1956 in die Suid-Skiereiland plaasgevind. Daar het vervreemding tussen Christene ontstaan aangesien die NG Sendingkerk die belange van die bruin gemeenskap teen die belange van die wit gemeenskap (NG Kerk) moes verdedig het. In die Kaapse verhore het die enigste teenstand van die NG Gemeente Die Vlakte en die Belastingbetalersvereniging van Southfield gekom. Die 1949 Sinode van die NGSK het 'n brief aan die Kaapse Sinode van die NGK geskryf waarin bystand gevra is om die hele apartheidsbeleid teen te staan. Daar is ongelukkig geen antwoord op die brief ontvang nie. Die lidmate vanoor die hele NGSK was ontnugter. Hulle het ervaar dat die hande wat hulle dra ‑‑die lidmate van die moederkerk ‑‑ook die hande is wat hulle teenstaan. Die 1950 Sinode van die NGSK het weer hulp teen die instelling van apartheid versoek. Die 1976 onluste het tot groter ontnugtering en selfs tot wantroue gelei. Die NGSK het dit beleef dat die NGK niks gedoen het om hulle in die geweldadige situasie by te staan nie. Daar was ook nie woorde van meegevoel nie. Na 'n ontmoeting met die Moderatuur van die Kaapse Sinode in 1980 toe die NGK weer verdedigend en regverdigend opgetree het en steeds nie die probleem raakgesien het nie, het leraars van die NGSK hulle gewend tot die pers (Argus). Dit het tot verdere vervreemding gelei. Daar was ook stemme van protes. Op 22 September 1949 het die Ring van Wynberg besluit om "die onbybelse en onchristelike toepassing van die beleid van verpligte apartheid, wat aanleiding gee tot diskriminasie teen die kleurlinge, en sodoende die gesindheid van Christus onder kleurlinge vernietig", te veroordeel. |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|