NG Kerk Wynberg

Tuisblad Terug Terugvoering Inhoud

Visitasie

 

Tuisblad
Terug

 

VERSLAG VAN DIE KOMMISSIE VIR KERKVISITASIE AAN DIE RING VAN

WYNBERG IN SITTING TE SIMONSTAD OP 13 SEPTEMBER 2009 E.V.D.

 

Geagte Voorsitter,

U kommissie doen as volg verslag:

1.     OPDRAG:

Tydens die Ringsitting van 2008 is besluit dat Ringsvisitasie in die gemeente Wynberg plaas sal vind.

2.     UITVOERING:

Op 9 September het die kommissie (Di JU Theron, DU Batt en Oudl JE Page) die gemeente Wynberg besoek. Afsonderlike gesprekke is gevoer met die Leraar (Dr DT Nel) en die Gekombineerde Kerkraad (NGK en VGK Wynberg).

3.     BEVINDINGE:

Die kommissie kan met dankbaarheid getuig dat, met inagneming van die moeilike pad van eenwording wat die twee gemeentes (VGK en NGK) loop, dit nog goed gaan in die gemeente van Wynberg. Hoewel hierdie proses regtig baie aandag en energie verg, word die normale bedieninge in die gemeente(s) nie afgeskeep nie. Trouens, baie energie word ingesit in die inrigting van eredienste, die Woordverkondiging, Sending, die Jeug, Diens van Barmhartigheid......

Die feit dat die eenwordingsproses nie tot ‘n punt kan kom nie is vir die twee gemeentes ‘n seer saak. Op die oomblik word daar om die beurt in die twee gemeentes se kerkgeboue eredienste gehou. “Lidmate verstaan nie dat die kerk elke tweede Sondag toe moet wees nie....” Hierdie reëling plaas ook ‘n geweldige finansiële druk op die gemeente.

Dit is die NG Gemeente en die VG Gemeente van Wynberg se hartsbegeerte dat die kerklike strukture hulle sal toelaat om een te word.

Die gesprek met die Leraar het aan die hand van die volgende sake plaasgevind:

a. Gesondheid – fisies en geestelik: “Ja, met dankbaarheid kan ek sê dat dit met my gesondheid goed gaan. Ek poog om fiks te bly, maar met my besige program kry ek dit nie altyd reg nie. James Buys se dood het bitter swaar op my kom lê. Om ‘n gesin deur so ‘n krisis te lei is erg...., maar om ‘n gemeente daardeur te help was bitter moeilik. Eenwording het ook sy eiesoortige spanning en uitsonderlike uitdagings gebring.” Daar is ‘n gebedsgroep wat die leraar geestelik bystaan en die kerkraad wat positief bly in ‘n groot bron van ondersteuning.

b. Gesinsverhoudinge: Is gesond. Hulle bid gereeld saam en bly positief oor die bediening in die gemeente. Die normale druk van ‘n gemeente (‘n bietjie ekstra as gevolg van eenwording) word ook deur hierdie leraars-gesin beleef. Gesinslede kla dat die leraar, vanweë die druk program, nie genoegsaam beskikbaar is nie. Die druk program laat nie toe dat die leraar genoegsaam vakansie en afnaweke neem nie.

c. Verhouding met Kerkraad: Die leraar se verhouding met albei die kerkrade is positief. Van tyd-tot-tyd is daar spanning met sekere van die VGK kerkraadslede, maar die leraar voel dat dit nie teen hom as persoon gemik is nie, maar wel teen die proses van eenwording.

d. Verhouding met gemeente: Die leraar het ‘n goeie verhouding met die lede van albei die gemeentes. Die feit dat lidmate die gemeente verlaat oor die “eenwordingsproses” is regtig vir hom ‘n hartseer saak. Hy doen baie moeite om met die lidmate oor die proses te kommunikeer. Tog is daar enkele lidmate (meer in die VGK geledere) wat die leraar kwalik neem.

e. Roepingsbesef en bedieningsvreugde: “Ek kry vervulling, maar ek sal jok as ek sê dit is altyd lekker. Dit is swaar, want soms kom lê ‘n donker kleed om my.... maar ek werk daaraan. Soms wonder ek of ‘n nuwe persoon nie moet kom oorneem nie. ‘n Versoener het nie ‘n lang raklewe nie. Daar is ook dinge wat my pla. Ek voel ek dring nie deur tot die tieners nie. Dan is die taalkwessie ook ‘n baie sensitiewe saak.”

f. Materiële versorging deur kerkraad: Die leraar is tevrede met sy materiële versorging.

g. Afleiding en ontspanning: Gaan stap in die berg en is besig om ‘n boek te skryf.

h. Boodskap aan kerkraad/ring: Die kerkrade het deur baie moeilike tye gewerk en die eenwordingsproses baie goed hanteer. Daar is egter nie meer baie tyd nie.... die gemeentes bloei finansieel.

Die gesprek met die Kerkraad het aan die hand van die volgende vrae plaasgevind:

a. Wat dink julle doen julle reg en kan ander by julle leer? Die proses van eenwording het aan die kerkrade en lidmate die geleentheid gebied om mekaar beter te leer ken en jou liefde vir “ander” mense prakties te demonstreer. Die samesyn van mense is die grootste pluspunt. Die kerkrade poog regtig om almal in die gemeente(s) te bereik, hulle behoeftes aan te spreek en belange op die hart te dra. Eredienste word ingerig as jeug-, formele-, informele- en mediteringsdienste.

b. Wat het julle uit julle foute geleer? “Die struikelblokke word gewoonlik veroorsaak deur die tegniese dinge wat verkeerd loop, maar deur dit het ons geleer om mekaar onvoorwaardelik lief te hê.”

c. Waarmee sukkel julle en kan julle ander dalk help? “Ons sukkel met bagasie – die beeld van die NG Kerk; mense wat wil loop omdat transformasie nie plaasvind nie; ander wat weer bevooroordeeld is; Afrikaners wat minder word en kerke wat leeg loop. Ons het ‘n lys opgestel van die dinge wat mense pla en daarvolgens ‘n tienpunt plan van aksie opgestel. Ons kan die beeld van die kerk verbeter. Die mense wat nou hier is wil graag die transformasie deursien. Ongelukkig kry ons te min ondersteuning van die VGK Ring – eintlik staan hulle apaties teenoor die hele proses. Verder sukkel ons ook maar met die feit dat net ‘n klein groepie lidmate die verantwoordelikheid op hulle neem en te veel wat op die kantlyn sit en kritiseer. Dan is daar nog die vele verwagtinge by lidmate oor wat die kerk hulle moet bied en ons kan nie aan al die verwagtinge voldoen nie. Dit sal vir ons nogal lekker wees as te weet dat die Ringsgemeentes ons op hierdie pad steun en self ook pogings aanwend in die rigting van eenwording.”

d. Waar lê julle prioriteite op die oomblik? Naas die strewe om een gemeente te wees, is die kerkraad se prioriteit om die gemeente te bedien; die jeug aan die gang te kry en hul finansiële teikens te bereik (drie pilare).

e. Wat gee julle hoop vir die pad vorentoe? “Dit is ‘n geloofsproses. Dit is emosioneel uitputtend. Ons het hoop, maar is moeg.....”

f. Wat maak julle bekommerd oor die pad vorentoe? Die stories wat mense opmaak. Ook die groot klomp mense wat ons verloor het in die proses.

g. Hoe beleef julle jul leraar? “Hy is nie bang om sy wese op die spel te plaas vir die saak nie. En hy doen dit met liefde en opregtheid. Hy is bereid om die risiko van mislukking in die gesig te staar – dit is ‘n kenmerk van ‘n groot leier. Hy word deur almal gerespekteer; is nie net predikant nie maar ook vriend; gee om en maak tyd vir mense – man van God. Ons weet hy trek swaar sedert James se dood.”

4.     GEVOLGTREKKING:

Die kommissie het groot waardering vir die leraar en kerkraad van die gemeente Wynberg. Dit is ‘n belangrike en noodsaaklike pad wat hulle stap – hulle pad is Jesus se pad... is ons pad. Ons dank die Here vir die leraar wat die voorbeeld stel, ‘n kerkraad wat hulle roeping besef en entoesiasties is en ‘n gemeente wat hul dissipelskap uitleef. Mag die Here hulle vul met wysheid en Sy seën op hul laat daal.

 

JU Theron         DU Batt         JE Page

 

Stuur pos na dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings in verband met hierdie webwerf.
Kopiereg © 2002 Nederduitse Gereformeerde Kerk Wynberg
Laaste verandering: 01/13/12