|
|
|
|
Die vrouediens van Wynberg sien uit na geseënde 2007
Die hoogtepunt van 2006 was ‘n lente-ontbyt wat goed ondersteun is deur vroue in ons gemeente, van die VGK Wynberg gemeente, van buite en laaste maar nie die minste nie, die mans in ons gemeente. O, hulle was tog so welkom en het spesiale glans aan ons funksie verleen! Ds. Johan Symington was die gasspreker en die tema was: ‘Waarheen is ons, die kerk van Christus, op pad in die 21ste eeu?’ Van die fondse wat die geleentheid opgelewer het, is R1000,00 aan Straatwerk geskenk. Fondse alleen is nie belangrik nie, maar die geleent-heid om mekaar beter te leer ken om ‘n mooi gedekte tafel is van onskatbare waarde vir samehorigheid in ons gemeente. Die komiteelede saam met Jola ons voorsitster, wil ons hartlike dank oordra aan die vroue in ons gemeente wat ten spyte van hulle ander verpligtinge, ingeskakel en saamgewerk het om van die lente-ontbyt ‘n groot sukses te maak. Die komitee nooi dan ook elkeen uit om deel te hê aan die aktiwiteite van die vrouediens hierdie jaar. Kom ons span saam en maak 2007 werklik ‘n jaar waarop ons as vroue van Wynberg trots kan wees! Een van ons komiteelede is skielik aan die einde van verlede jaar oorlede. Christene Slade was ‘n baie privaat persoon, maar ons was bewus van die feit dat sy in stilte baie gely het vanweë gesondheidspro-bleme. Ons sal Christene onthou vir haar eerlikheid en haar verrassende sin vir humor. Sy was ‘n lojale lid van die komitee. Nou lê ‘n nuwe jaar voor wat ons met entoesiasme wil aanpak en met die oë gevestig op Jesus ons klein bydraes wil maak tot voordeel van ons gemeente en tot eer van Sy naam. Geesje Simpson-Anderson |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|