 |
Versoening kan nie plaasvind
voordat harte nie vir mekaar oopgemaak word nie. Dit begin dikwels met 'n
skoonmaak proses waartydens daar dinge gesê word wat kan wond. Hierdie pyn en
frustrasies moet eers uitgesels word: wees dus bereid om houe te ontvang. |
 |
Versoening verg geduld en
blootstelling van jouself. Soms voel dit of jou wortels losgeskut word. Wat jy
voorheen geglo het waar, seker en reg is, gaan nie noodwendig ook so vir ander
wees nie. Wees daarom oop om gekorrigeer te word en voorbereid op soms
ontstellende ontdekkings. |
 |
Wees opreg en neem met integriteit
deel aan die gesprek. Dis belangrik dat die ander party sal aanvoel dat jy
bedoel wat jy sê en dat jy nie net daarop uit is om op een of ander manier
punte aan te teken nie. |
 |
Sê wat jy dink en hoe jy oor sake
voel. Onthou om sake te "relativeer": met ander woorde besef dat jy
waarskynlik iets sê vanweë jou huidige situasie en agtergrond, en dat nuwe
inligting en blootstelling ook daardie standpunt kan verander. |
 |
Moenie net "praat ter wille van
praat" nie, praat oor goed wat saak maak en omdat julle mekaar beter wil leer
ken. Slegs wedersydse openhartigheid kan meebring dat die brug wat gebou word,
gaan hou. |
 |
Konsentreer op die dinge waaroor
daar saamgestem word en los eers die verskille. Moenie aanvanklik in
sinodeproblematiek soos die Belhar belydenis vasval nie. Eers as beter
verhoudings bestaan, kan daardie sake aandag kry. |
 |
Hoewel samewerking op
kommissievlak belangrik is, bring blootstelling in kleingroepverband dikwels
gouer 'n openheid en bereidheid om mekaar te huisves. |
 |
Gereelde kontak tussen leraars is
belangrik. Dit skep ruimte vir die wegruim van wantroue en nader beweeg na
mekaar toe. |
 |
Daar moet vooraf 'n duidelike
verbintenis by partye wees om voort te gaan met die proses van versoening en
eenheid ongeag struikelblokke wat kan opduik. |