|
|
|
|
Op 7 Junie 1829, in die omgewing waar Jan van Riebeeck die eerste wingerd aangeplant het, het 'n klein groepie Christene naby Kirstenbosch in die pragtige opstal van die plaas Boshof vergader. Hulle het besluit om 'n geestelike wingerd aan te lê. Hul hemelse Vader was die boer. Hy het slegs een wingerdstok gebruik. Deur die jare heen het Hy die wingerd gesnoei om meer vrugte te dra. Vandag, wanneer besoekers verby die ou historiese hekke van die plaas Boshof in Paradiseweg ry, betree hulle die skilderagtige gebied van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Wynberg. Dit strek oor die woongebiede van Wynberg, Constantia, Bishopscourt, asook gedeeltes van Nuweland, Claremont, Kenilworth, en Plumstead.
Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Wynberg het ‘n besondere ryk geskiedenis. Toe die gemeente in 1829 as die eerste dogter van die Groote Kerk binne die Kaapse skiereiland afgestig het, was sommige van die stigterslede bruin lidmate. By daaropvolgende sinodes is die gemeente voorgehou as voorbeeld waar bruin en wit in harmonie en vrede die Here saam dien. Die gemeente streef steeds daarna om almal wat by ons ’n geestelike tuiste vind, in liefde te bedien.
Deur die jare heen het die geheim van vrugbaarheid in die geestelike wingerd van Wynberg dieselfde gebly. Ons kan dit in drie woorde sê: "Bly in My." Jesus is die Ware Wingerdstok van Wynberg, en ons as sy gemeente dra vrugte omdat sy Woord en liefde in ons harte woon. Die beroemde teoloog van Switserland, Karl Barth, beskou dit as een van die suiwerste formulerings van presies dit wat God van ons verwag. Dr. Danie T. Nel Predikant, NG Kerk Wynberg |
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|