|
|
|
|
Onlangse beriggewing en korrespondensie in die media oor die Nederduitse Gereformeerde Kerk WynbergRapport 'n Kopskuif oor Belhar(Artikel, 21 November 2008)Dit was soos ’n emmer koue water in die gesig van twee Wes-Kaapse gemeentes in die NG Kerkfamilie wat besluit het om saam te werk, en hierdie keer was dit nié die groot teenstander van Belhar, die NG Kerk (NGK), se skuld nie. Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) se Wynberg-ring het geweier om ’n samewerkingsooreenkoms tussen die twee betrokke gemeentes kerkregtelik goed te keur. Die NGK se ring het dit wel goedgekeur. Ek het onlangs die Wynberg-gemeentes se storie eerstehands gehoor en gesien. Die nuwe gesamentlike gemeente het ’n konferensie oor eenheidsmodelle gehou en hul storie met passie en geloofwaardigheid met die konferensiegangers gedeel. Die gesamentlike gemeente werk. Lidmate weerskante van die kleurgrens aanvaar mekaar onvoorwaardelik, hulle dien, getuig, bid, sing, lag en huil saam. Daar is op baie ander plekke samewerking tussen NGK- en VGK-gemeentes, maar dit gebeur net op geselekteerde bedieningsterreine – van saam basaar hou tot gesamentlike barmhartigheidsdiens of van tyd tot tyd gesamentlike Nagmaal. Maar dis weer eens baie duidelik ná die onlangse sinodesitting van die VGK, waar die eenheidspoging feitlik by breekpunt gekom het, dat die pad na eenheid nog lank en steil is. En op die oomblik staan die Belydenis van Belhar soos ’n oënskynlik onoorkomelike berg op daardie pad. Samewerking op plaaslike vlak is natuurlik prysenswaardig, maar die oplossing lê nie net daar nie. Dis uiteindelik die leiers van die twee kerke wat die ruimte vir versoening moet skep. Dalk moet ons ’n kopskuif maak oor hoe om so ’n ruimte te skep: Neem Belhar ’n slag uit die eenheidsgesprek en jy kan feitlik seker wees dit sal die kerke se ware gesindheid oor eenheid openbaar. Gestel die VGK sê hy is bereid om Belhar “op te offer”. Dan, met die belydenis uit die berekeninge uit, sal ons weet of die NGK ernstig oor eenwording is, of Belhar die enigste en ware rede vir sy huidige weerstand is. Van die VGK-leiers sal dit natuurlik ’n dapper stap vra om Belhar, wat so na aan ons hart is, ter wille van versoening en eenheid prys te gee. Belhar se evangeliese boodskap is belangriker as sy simboliese betekenis en profetiese ontstaan. Woorde met Bybelse inhoud soos dié in Belhar is leeg en betekenisloos sonder dade. Dit sal wonderlik wees as die NGK se leiers so ’n stap deur die VGK aanvaar. En die VGK? Nie almal in dié kerk sal so ’n opoffering wil maak nie, maar ons weet teen hierdie tyd van ons mense gaan in elk geval hardkoppig bly oor eenheid. Nietemin moet dit die kerkleiers nie daarvan weerhou om opofferings te maak om die droom van ’n herenigde kerk te verwesenlik nie. As die twee kerke nie albei opofferings gaan maak nie, sien ek geen herenigde kerk op die horison nie. Ons in die VGK behoort onsself voortdurend daaraan te herinner dat die Belydenis van Belhar nie in die eerste plek aan die NGK gerig is nie, maar dat dit ’n belydenis van ons geloofsoortuiging is. Ons kan nie met Belhar die vinger wys na die NGK sonder dat ons in die VGK ook eerlik selfondersoek instel nie. Die gereformeerde kerke bely in ander belydenisgeskrifte, soos die Heidelbergse Kategismus en die Apostoliese Geloofsbelydenis – dat die strewe na eenheid tot die hart van die kerk hoort. Onenigheid onder Christene is verkeerd, veral as gelowiges op grond van ras geskei is, soos in die NGK-familie. Dit tas die geloofwaardigheid van die Christelike kerk aan en druis in teen die diepste bedoeling van die evangelie. Ons behoort dus saam te worstel om eenheid te verkry en bereid wees om die minste te wees as dit moet. Eenheid word nié bereik deur voorwaardes te stel nie. Dit gaan tog nie in die eerste plek oor die Belydenis van Belhar as ’n belydenisskrif nie, maar oor die God wat in Belhar bely word, en dit waartoe Hy sy kerk roep. Dit is God se soort liefde wat geïntegreerd uitgeleef behoort te word. * Pieter van Niekerk is predikant van die VGK-gemeente Friemersheim in die Suid-Kaap.
Die Kerkbode VGK ring steek stok in speek oor eenheid(Artikel, 21 November 2008)Die Wynberg Gemeente in Kaapstad wat landwyd en selfs internasionaal as ’n simbool van versoening voorgehou word in die strewe na eenheid binne die NG kerkfamilie kry nou die wind van voor. Die VGK Ring van Wynberg wil ‘n stokkie steek voor die NG gemeente Wynberg en die VGK gemeente Wynberg se pogings om een gemeente te word. Nadat die twee gemeentes se gesamentlike kerkraad onlangs besluit het om uit te styg bokant die kerkpolitiek wat die vier kerke in die NG Kerkfamilie reeds dekades lank uitmekaar hou, is daar ‘n nuwe vlieg in die salf. Die VGK ring van Wynberg is nie te vinde vir die samewerkingsverband tussen die twee gemeentes nie - selfs al is die Belydenis van Belhar deel van die ooreenkoms. Die VGK ring van Wynberg dreig selfs dat die bruin VGK gemeente hulle kerkgebou kan kwyt wees as hulle een word met die NG gemeente Wynberg. Die ring sê in ‘n verklaring “indien die twee gemeentes een sou wees, beteken dit dat die VGK Wynberg uit ons kerkverband getree het en dus 'n gemeente op hul eie is. Die implikasie van so ’n handeling is dat lidmate wat nie met hierdie nuwe gemeente wil saamgaan nie, die oorspronklike VGK-gemeente bly met al die eiendomme,” waarsku die VGK ring. Dr Danie Nel van die NG gemeente Wynberg sê egter die twee gemeentes se kerkrade is glad nie van plan om die twee gemeentes tot ontbinding te lei nie. Ons wil slegs ‘n werkbare samewerkingsmodel in plek kry totdat strukturele eenheid in die NG Kerkfamilie ‘n werklikheid is, het dr Nel aan Kerkbode gesê. Die prosedure wat gevolg word is volgens die VGK ring van Wynberg nie kerkregtelik nie. Bruin en wit lidmate en predikante is egter moeg vir die stok wat aanhoudend in die speek gegooi word sodra dit lyk of daar vordering gemaak word in die moeisame eenheidsproses. “Dit is is 'n wonderwerk dat daar nog enigiemand is wat bereid is om energie te sit in formele samewerkingsooreenkoms wat op papier uiteengesit en regstegnies aanvaar word. Word dit nie deur een of ander persoonlikheid of struktuur in die NGK gekelder nie, dan sal die VGK verseker sorg dat dit gekelder word,” verwoord ds Barend Nel van die NG gemeente Kraaifontein baie lidmate se frustrasie. “Ek is gelukkig dat die NG gemeente waaraan ek behoort en die VG gemeente t in dieselfde area baie dinge saam doen soos al ons aanddienste, pinksterdienste, ens. Maar dit lyk my al hoe wyser dat 'n mens niks daarvan op papier moet sit nie, want die oomblik wat jy dit doen kan jy verseker wees dat een of ander persoon of "orgaan" woedend daarop sal neerdaal en dit verskeur. ‘n VGK leraar van Bredasdorp, ds Arné Leuvennink, Bredasdorpskryf in ‘n brief aan Die Burger “wat ’n blye dag vir gereformeerdes moet wees, dat twee gemeentes uiteindelik die voorbeeld stel om die pad van gehoorsaamheid te loop en te verenig, word nou summier deur die ring as “onkerkregtelik” afgemaak. Watter sin het ’n belydenisskrif, en waaroor gaan die stryd oor die behoud van die Belydenis van Belhar in ’n nuwe kerkverband as die kerkreg uiteindelik die bepalende voorkeur kry?”, vra ds Leuvennink.
DIE BURGER Kerk-triomf word toe eerder tragedie(Brief, 6 November 2008)Die berig oor die VGK-ring van Wynberg se reaksie op VGK- en NGK-gemeentes wat wil verenig is, om die minste te sê, ontstellend (“Ring ruk gemeentes wat wil verenig in die bek,” X DB, 01.11). Wat ’n blye dag vir gereformeerdes moet wees, dat twee gemeentes uiteindelik die voorbeeld stel om die pad van gehoorsaamheid te loop en te verenig, word nou summier deur die ring as “onkerkregtelik” afgemaak. Die argument is “dat lidmate wat nie met die nuwe gemeente saamgaan nie, die oorspronklike VGK-gemeente bly met al die eiendomme.” Watter
sin het ’n belydenisskrif, en waaroor gaan die stryd oor die behoud van die
Belydenis van Belhar in ’n nuwe kerkverband as die kerkreg uiteindelik die
bepalende voorkeur kry? Maar nou is kerkregtelike optrede vir die lede van die ring so belangrik dat hulle hul gemeentes oproep om liewer hierdie sondige geskeidenheid in stand te hou totdat “die kerke op sinodale vlak verenig het”. Die tragiese is dat dit op sinodale vlak tans juis gaan oor die instandhouding van eie identiteite eerder as die nuwe identiteit wat ons van Christus ontvang het. Die vraag is hoe lank gemeentes op grondvlak nog gaan toelaat dat kerkstrukture hulle dwing om hierdie stuk ongehoorsaamheid in stand te hou. Dit lyk my dit het tyd geword dat gemeentes eenvoudig hul kerkverband sal moet prysgee ter wille van die geloofwaardigheid van hul eie belydenis en die Koninkryk van God. Brief verkort. –
Red.
DIE BURGER Ring ruk gemeentes wat wil verenig in die bek(Artikel, 1 November 2008)Leiers van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Kaapstad. – die Wynberg-omgewing het voorlopers in die eenheidsproses tussen dié kerk en die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) in die bek geruk. Die VGK-ring van Wynberg meen die gevorderde eenheidspogings tussen die NG- en VGK-gemeentes Wynberg is onkerkregtelik. “Die implikasie van so ’n handeling (eenwording) is dat lidmate wat nie met die nuwe gemeente wil saamgaan nie, die oorspronklike VGK-gemeente bly met al die eiendomme,” lui ’n verklaring deur die VGK-ring van Wynberg. Die gemeentes roteer tans tussen kerkgeboue vir eredienste. “Twee gemeentes kan nie een word voor die kerke (op sinodale vlak) verenig het nie,” het ds. Denzil Oliphant, skriba van die Ring van Wynberg, gister gesê. “Indien die twee gemeentes een sou wees, beteken dit dat die VGK Wynberg uit ons kerkverband getree het en dus ’n gemeente op sy eie is,” lui die verklaring. Volgens Oliphant sou selfs een lid van die VGK wat nie deel wil hê aan eenwording nie dus geregtig wees op gebruik van dié kerk se eiendom. – Le Roux Schoeman.
DIE BURGER Twee gemeentes bid onder een toring(Artikel, 24 Oktober 2008)Twee Wynberg-gemeentes aan weerskante van
die Belhar-skeidslyn vat eenwording daadwerklik kop toe. En basta met sinodes se
twyfel, berig Le Roux Shoeman. Hoewel die “huwelikskontrak” wat die sowat 450 NG- en 500 VGK-lidmate by die Wynberg-“projek” amptelik sal verenig nog finaal deur die VGK geteken moet word, hou die gemeentes reeds saam Sondagskool en kerkkampe, roteer kerkgeboue en aanbid saam. Hulle kan nie vaste eiendom saam besit nie omdat hulle twee aparte regs-entiteite moet bly totdat die sinodes verenig. Die eenheidsmodel word vergelyk met ’n huwelik wat buite gemeenskap van goedere plaasvind. Hoe dit ook sy, noem dit ’n apartheid-babelas of die noodsaaklik trae tempo van kerkregtelike proses, maar dit het dié twee kerke – ’n paar honderd meter van mekaar geleë – goed meer as ’n dekade se aktiewe pogings gevat om mekaar te vind. Die teëspoed is dat die VGK se algemene sinode vandeesmaand opnuut besluit het die NGK in die breë maak nie genoeg erns met die eenwordingsproses nie. Gevolglik bevind Wynberg se eenworders hulself nou op ’n soort skiereiland: semi-afgesny van die sinode-strydendes, maar nog nie amptelik een nie. Hul eenwording het nietemin ook simboliese waarde binne die kerk, meen dr. Danie Nel, dominee by dié NG gemeente en voorsitter van die gesamentlike kerkraad. Hy hoop dat hulle wel binnekort die admin-knoop sal deurhaak. “Die NGK se ring van Wynberg het die ooreenkoms ook op 15 September eenparig goedgekeur, maar die VGK-ring moet dit nog doen,” verduidelik Nel. “Die gesamentlike regskommissies van die sinodes het ’n gunstige besluit daaroor geneem, wat ons darem hoop gee vir die pad vorentoe.” Alles in Wynberg geskied dus teen die agtergrond daarvan dat aanbidders hier se onderskeie moderature amptelik opgehou het om oor eenheid te praat, en sommige meen raslyne in Gereformeerde kerkbanke gaan nog lank nie vervaag nie. Nel vertel hoe versoenings- en uitreikwerk reeds in 1991 begin het by dié gemeentes, toe prof. Russel Botman, tans rektor van die Universiteit Stellenbosch, daar werksaam was. Volgens Nel probeer dié gemeentes om “ ’n lig” vir ander in die kerk te wees. Dit is egter ’n probleem dat eenwording toenemend om sinodale debatte draai, sê hy.
DIE BURGER Die wonderwerk van Wynberg(Artikel, 24 Oktober 2008)Met nuus dat lidmate van die VGK en NGK so te sê die
beloofde land van eenheid binnetrek in Wynberg, wonder ’n mens hoe verdeeldheid
oor die Belydenis van Belhar daar die hoof gebied is. “Russel Botman, wat toe my kollega in Wynberg was, het die
uitkoms as ’n wonderwerk beskou – baie van ons lidmate het hulle instemming met
die belydenis verklaar. In 1997 het ons in blokbyeenkomste die belydenis
bespreek en gevra dat lidmate hul menings moet gee. Ons het nie ’n enkele
beswaar teen die inhoud van die belydenis ontvang nie. Die kerkraad het hom
vervolgens eenparig met die inhoud van die belydenis vereenselwig en die
boodskap aan die meerdere vergaderings deurgegee. “Volgens my inligting kan ’n kerkraad nie van die lidmate verwag om ’n belydenis te aanvaar nie. ’n Belydenis is die eiendom van ’n kerk en word deur ’n sinode volgens ’n voorgeskrewe weg aanvaar. Ek verstaan dat daar nêrens in die Gereformeerde wêreld voorbeelde is waar daar van lidmate verwag is om ’n belydenis te onderteken nie. Dit gebeur slegs waar predikante gelegitimeer word. Lidmate wat belydenis van geloof aflê, onderwerp hulle wel aan die kerk se leer. Laasgenoemde behoort nie ’n probleem in ons gesamentlike gemeente te wees nie, aangesien lidmate volgens hul keuse as NG- of VGK-lidmate bevestig kan word. “Ons reken dat ’n kerkraad wel die Belydenis van Belhar in ’n ooreenkoms kan erken. Ons doen dit in Wynberg met vrymoedigheid omdat ons lidmate reeds 11 jaar gelede aangedui het dat hulle die inhoud daarvan aanvaar.”
Rapport Kerke ‘skop politiek onder die jis’,word een Gesamentlik in diens van Here(Artikel, 12 Oktober 2008)Terwyl die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) en die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) op sinodevlak hare kloof oor eenwording, waardes en die Belydenis van Belhar, het twee gemeentes van dié kerke hulle die afgelope week in Wynberg, Kaapstad, kontraktueel verbind. “Ja, daar was ’n huwelik; buite gemeenskap van goedere,” sê dr. Danie Nel, enigste predikant van dié gemeente wat vroeër die herder van die NG gemeente Wynberg was. Ds. James Buys van die VGK Wynberg, wat saam met Nel aan die eenwordingsproses hier gewerk het, het in Maart vanjaar selfmoord gepleeg. Nel het Vrydag bevestig die gemeentes is die eerste van dié twee kerke in die land wat regstegnies saamsmelt en voortaan as die Gesamentlike Gemeente van Wynberg bekend sal staan. Mev. Sylvia Maasdorp, kommunikasiebeampte, sê al die lidmate het op ’n gemeentevergadering besluit hulle is moeg vir die politiekery. “Ons skop die politiek onder die jis. Ons kry verskriklik seer oor die bakleiery. Ons hou kerk en aanbid die Here saam met mekaar. Ons hou ook saam basaar.” “Ons was nog meer gemotiveerd ná dit wat dié maand by die sinode gebeur het. “Toe skryf ons só aan die gemeente: ‘Goeie nuus! Die proses van eenheid tussen die Wynberg-gemeentes word nie geraak deur die probleme tussen die sinodes nie. Ons in Wynberg gaan ’n positiewe simbool wees.’ Nel sê “buite gemeenskap van goedere” beteken dat die gemeente alles saamdoen en saambestuur. “Ons kan net nie eiendomme saam besit nie, volgens die bepalings van die eiendomsreg. “Ons eenwording is eenparig deur die Wynbergse ring goedgekeur. Daar’s aan ons gesê dit wat die twee gemeentes wil doen, kan geakkommodeer word binne die huidige reglemente van die twee kerke.” Oor die Belhar-belydenis sê Nel: “Ons erken die belydenisskrifte van albei gemeentes, wat die Belydenis van Belhar insluit.” Marlene Malan in Rapport, 12 Oktober 2008
Die Kerkbode Wynberg-gemeentes gee pas aan vir hereniging(Hoofartikel, 24 Augustus 2007)Nadat kleurverskille hulle langer as ’n eeu en ’n kwart gelede van mekaar
weggedryf het, is die NG Gemeente Wynberg in Kaapstad weer een. Dit is die
gevolg van ’n eenparige besluit verlede maand tydens die gesamentlike
kerkraadsvergadering van die NG Gemeente Wynberg en die Wynberg-gemeente van die
Verenigende Geref Kerk (VGK). Die besluit lui dat alle eredienste van die twee
gemeentes voortaan gesamentlik moet plaasvind.
Rapport Saam ná 126 jaar(Artikel, 24 Junie 2007)Geleerde preke en kerklike verklarings het weinig impak op die wonde van 'n verskeurde gemeenskap uit die verlede. Só het di. Danie Nel en James Buys, onderskeidelik van die hedendaagse NG Kerk en VG Kerk Wynberg uitgevind. Die twee leraars lei hul gemeentes in versoening en hernieude samesmelting 126 jaar nadat hulle eertydse wit en bruin gemeentelede van mekaar geskei is. "Versoening is nie 'n bestemming nie, maar 'n reis," glimlag Nel en Buys instemmend vir mekaar. Wynberg se NGK en VGK is sodoende sedert 1991 'n lewende, ervaring-gebaseerde model hiervan. Albei leraars meen dat op sinodale vlak word pogings tot versoening dikwels deur onderwerpgedrewe debatte gekniehalter. In 1829, toe die NG Kerk Wynberg van die Groote Kerk afgestig het, was sommige van die stigterslede bruin lidmate. By daaropvolgende sinodes is dié gemeente voorgehou as 'n voorbeeld van waar wit en bruin in harmonie hul godsdiens beoefen. in 1881 het gedwonge vervreemding tussen wit en bruin gemeentelede ingetree met die afstigting van die NG Sendingkerk. En heelwat later het die Groepsgebiedewet gelowige bruin mense se lewens, geloof en vriendskappe in puin gelê. "Dit is hoekom ons wil sien dat mense mekaar op emosionele vlak mekaar leer ken deur gesamentelike doelwitte te hê," sê Buys. In 2001 het die NG Kerk sy begeerte om weer met die VGK te herenig, aan hulle bekend gemaak. Met die aanhoor hiervan, was die afgevaardiges van die VGK tydens 'n gesamentelike ekumeniese kommissie, "stomverbaas" en almal teenwoordig ontroer. 'n Toekoms saam het begin gestalte neem. Versoening, meen Nel, is ‘n "gawe wat geleidelik langs 'n volgehoue pad van gebedsafhanklikheid, liefde en blootstelling aan mekaar, gebore word." Deesdae funksioneer dié twee gemeentes alhoemeer saam, met gereelde kanselruiling, gesamentelike dienste, bidure, kerkraadsvergaderings en -kommissies, gemeenskapsuitreikings en junior kategese. Hulle het ook 40 dae opsy gesit om saam oor kwelvrae te besin. ANOESCHKA VON MECK Senior Verslaggewer Rapport Kaapstad Senior Journalist Rapport Cape Town
DIE BURGER NGK en VGK van Wynberg span saam(Artikel, 30 April 2007)
Volgens me. Sylvia Maasdorp, woordvoerder van dié gemeentes, is die samewerkingsproses tussen die NG gemeente en die VGK-gemeente hier reeds ’n hele paar jaar aan die gang. “Die gemeentes berei nou ook voor om van 6 Mei tot 17 Junie ’n veldtog van doelgerigtheid te hou. “Dié veldtog is daarop gemik om die gemeentes saam te laat besin oor die doelgerigtheid en herlewing van die Christelike lewe. Ons beskou dit as ’n mylpaal in die geskiedenis van die twee gemeentes en die kerke.” Sy het gesê prof. Russel Botman, rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), het die samewerking tussen die gemeentes destyds voorgestel en begin dryf. “Ons, die Wynberg-gemeentes, wil die tegniese punte wat die twee kerke van
eenwording weerhou, oorbrug. Gemeentelede en die twee kerkrade werk reeds
geruime tyd saam en vergader ook saam.” Volgens ds. James Buys, leraar van die VGK-gemeente met sy 700 lidmate, sleep die twee sinodes van die NG en Vereni-gende Gereformeerde Kerk voete met die eenwordingsproses. Die twee Wynberg-gemeentes werk reeds sedert die negentigerjare saam. “Die twee kerke se aanddienste en verskeie ander aktiwiteite word lankal saam gedoen. “Die kerkrade vergader saam en daar is ook verlede jaar besluit om so vinnig moontlik een te word.” Dr. Danie Nel, leraar van die NG Kerk Wynberg, het gesê die twee gemeentes
het in 2001 gevra waarom die twee gemeentes nie weer een kan word nie. “Dit lyk
egter asof dit nog jare gaan duur voordat die NG en Verenigende Gereformeerde
kerkverbande gaan verenig. Die twee Wynberg-gemeentes streef intussen daarna om
sover moontlik as een gemeente te funksioneer. Dit sluit die bestuursvlak en
lidmate in.”
DIE BURGER Kerkgroepe sit vreugde op duisend gesiggies(Artikel, 13 November 2006)eduan maggo “Die Omgeekommissie is verheug om ’n derde jaar agtereenvolgens betrokke te kon wees,” het lt.kol. Anton Botha, opleidingstakbevelvoerder van die Lugmagbasis Youngsfield, gesê. Dié kommissie is ’n gesamentlike groep van die NG kerk Wynberg en die Verenigende Gereformeerde kerk (VGK) Wynberg. “Die Omgeekommissie werk as ’n eenheid om aan kinders van arm gemeenskappe in
die omliggende gebiede ’n bietjie vreugde te bring.” Meer as 1 000 kinders van
informele nedersettings in onder meer Philippi, Ottery en Khayelitsha is
Saterdag van vroegoggend af op lekker kos, hope vermaak en speletjies
getrakteer. Die kinders is met busse van hul onderskeie skole hierheen vervoer.
Ds. J.D. Buys van die VGK het gesê verskillende instansies en individue het
die dag deur hul skenkings moontlik gemaak. ’n Klomp bekende karakters soos
Superman, Spiderman, Barbie, Rooikappie, Shrek en Bugs het ook op die konsert ’n
draai gemaak. Tussen die georganiseerde speletjies deur het lekkergoedpakkies
vir heelwat taai glimlagte gesorg. En toe hulle uiteindelik hul speelgoed
ontvang, kon dié glimlagte nie afgevee word nie. “Die dag was definitief ’n
groot sukses – die getalle was oorweldigend,” het Botha gesê.”
Die Kerkbode Belewing van die GEES - ’n KOPDING?(Artikel, 12 Mei 2006)“Ek is nie die emosionele tipe nie”, het ons agnostiese vriend gesê. Ons het hom as ‘n analitiese, rasionele mens leer ken. Hy sou graag in God se bestaan wou glo, maar hy kon nie omdat daar net te veel was wat hy teen sy beterwete blindelings moes aanvaar. Ons was baie bly toe sekere aspekte van die evangelie tydens ‘n kleingroepbespreking vir hom begin sin maak het. Hy vertel wat verder gebeur het: “Ek het alleen in die veld gaan stap. Ek het vir die Here gevra om, as Hy daar is en my kan hoor, vir my ‘n teken te gee. Ek het gevra dat sy Gees my sal vul soos ek julle hoor praat het. Toe gebeur daar iets wat ek nie rasioneel kan verklaar nie… dit het vir my gevoel asof Jesus by my was en my verseker het dat Hy ook vir my gesterf het. Ek het sy liefde so intens ervaar dat ek begin huil het… nou weet ek, vir die eerste keer in my lewe, dat God werklik bestaan. Ek het Hom daardie oomblik ontmoet…” Ons vriend se getuienis klop met talle ander se ervaring – wêreldwyd! Dit lyk asof die Heilige Gees besig is met ‘n nuwe inisiatief in ons postmoderne wêreld. Hierdie keer gebruik Hy nie uitstaande predikers soos Billy Graham nie. Postmoderne mense luister nie graag na preke nie. Dit kom voor asof Hy Homself eerder openbaar waar soekendes die geleentheid kry om hul vrae op die tafel te plaas, waar hulle begrip van die evangelie in die ontspanne atmosfeer van kleingroepe kan toeneem en waar hulle die geleentheid kry om iets daarvan te ervaar. Dit lyk asof die kombinasie van insig en ervaring die basiese boustene van hierdie inisiatief is. Is ons Gereformeerdes ontvanklik hiervoor? Ons is mense wat die Woord en die belydenis in die sentrum plaas, en ons voel maklik ongemaklik wanneer mense oor hul ervarings begin praat. Ons raak selfs onrustig omdat ons “charismatiese beïnvloeding” vrees. In hierdie verband is daar reeds ‘n paradoks sigbaar: die kombinasie van insig en ervaring werk veral in die evangelisasieprogramme wat die hoofstroomkerke loods en geniet die steun van gerespekteerde teoloë soos I. Howard Marshall en J. I. Packer. Die amptelike standpunt van die NG Kerk, soos wat dit in ‘n gepubliseerde studiestuk van die 1978 Algemene Sinode vertolk word, erken die belangrike rol van ervaring: “Aan die egtheid van besondere ervaringe van talle gelowiges met die Heilige Gees hoef ons vir geen oomblik te twyfel nie… Dit is ‘n genade van God as sulke gelowiges op ‘n bepaalde dag tot stilstand gedwing word en die ervaring het dat hulle vir die eerste keer bewus word van die teenwoordigheid en die krag van die Heilige Gees in hulle lewe. Niemand mag ook gering dink van so ‘n ervaring in die lewe van gelowiges nie. Inteendeel: die kerk moet hoop en bid dat al sy vleeslike lidmate gebring mag word tot sodanige insnyding en vernuwing van hulle lewe, ja tot die vervulling met die Heilige Gees self.” Natuurlik moet ons waarsku teen ‘n beheptheid met ervarings. Wanneer dit die sentrum van ons fokus word, bly ons verhouding met die Here onvolwasse soos wanneer verliefdes slegs gevoelens probeer najaag. Dit gaan dan nie meer oor die ander persoon nie. Dit is egter nie die grootste gevaar binne die NG Kerk nie! Ons probleem lê eerder daarin dat ons "belewing" van die Gees 'n kopding geword het: dit lyk soms asof ons van Hom ‘n papiergees maak wat ons in die bladsye van die Bybel wegbêre, en slegs volgens die bekende patrone van ons denke laat uitkom. Só word die Gees vir baie lidmate “afwesig”. Jesus leer ons om die Here ook met ons hele hart lief te hê. Dit is ook wat Hy ons van sy Gees wil laat beleef: die mees algemene ervaring van gelowiges tydens die voortdurende vervulling met die Heilige Gees, is een van liefde – hulle beleef, soos ons vriend, hoe Jesus se oorvloedige liefde in hulle harte uitgestort word en hulle totaal vernuwe… en ons almal het dit baie nodig! Luister ons ook na Hom? Danie Nel, Wynberg
Die Kerkbode Belhar-Inisiatief(Brief, 11/03/2005)
DIE
Wynberg-inisiatief mbt die Belydenis van Belhar poog om gemeenskaplike grond in
’n prinsipiële benadering te vind waarbinne alle lidmate van die onderskeie
kerke geborge kan voel. Hulle moet kan weet dat wanneer die kerkleiding sou
besluit om ’n nuwe belydenis te aanvaar of ’n bestaande een te verander, dit
slegs oor een beginsel sou gaan: stem dit ooreen met wat die Woord ons leer?
Hulle sal ook die geleentheid kry om op grond van dieselfde beginsel ’n bydrae
te lewer wat op ’n deursigtige en verantwoordelike wyse hanteer sal word. Dr. Danie Nel, Wynberg.
DIE BURGER Voorstel van Wynberg oor Belhar verwelkom
|
|
Die herenigde kerk aanvaar dat sy taak van belydenisvorming nie afgehandel is nie. In die toekoms mag veranderende omstandighede en ’n beter verstaan van die Woord van God lei tot die aanvaarding van verdere belydenisskrifte, of die wysiging van bestaande belydenisskrifte. | |
|
Indien lidmate ’n beswaar of enige ander insig omtrent hierdie leer het of sou kry, moet hulle dit aan die kerkraad, ring en sinode openbaar sodat daar op ’n verantwoordelike wyse met mekaar in gesprek getree kan word. Lidmate kry hierdeur die geleentheid om aan te dui waar ’n belydenis nie met die Woord ooreenstem nie. |
3. Ons beveel aan dat die herenigde kerk die Belydenis van Belhar
ooreenkomstig die gereformeerde weg as belydenisskrif sal aanvaar – en dat
dit daarom presies soos die ander drie hanteer sal word – wat sou beteken
dat niemand kan sê hulle stem nie daarmee saam nie. Dit impliseer nie dat
daar van individuele lidmate verwag sou word om êrens in die openbaar dit
persoonlik te onderteken nie. Daar bestaan na ons wete geen presedent in die
gereformeerde tradisie hiervoor nie. Lidmate verklaar hulle aanvaarding
tydens die openbare belydenis van geloof. Predikante onderteken die
belydenisskrifte tydens legitimasie. Die besondere ampte wat verantwoordelik
is vir die instandhouding van die leer, verbind hulleself tot ’n bepaalde
aanspreeklikheid deur hulle handtekening.
Ons meen dat hierdie beginsels aan elke lidmaat of kerklike vergadering ’n
redelike moontlikheid bied om nou reeds deel te hê aan die herenigde kerk se
belydenisvorming sonder om die proses van hereniging verder te vertraag.
- Dr Danie Nel is leraar van die NG Gemeente Wynberg.
![]()
Die Volksblad
Strauss
reageer op Belhar-brief
DEBBIE SAUER, 26/01/2005
DIE algemene sinode van die NG Kerk wou nie deur die nie-verpligtende aanbeveling van die Belhar- belydenis as belydenisskrif, daardeur sê dat individue, predikante of gemeentes dit móét onderskryf nie.
Só het prof. Piet Strauss, ondervoorsitter van die Vrystaatse sinode, gister gereageer op 'n brief van lede van die dagbestuur van die sinodale kommissie vir leer en aktuele sake van die NG Kerk se Wes- en Suid-Kaapse sinode wat in Volksblad verskyn het. Die briefskrywers is Theo Badenhorst, Ben du Toit, Michiel Strauss en Francois Wessels.
Prof. Strauss het in sy persoonlike hoedanigheid sy mening gelug.
Luidens die brief was die algemene sinode se besluit om die Belhar-belydenis as 'n belydenisskrif vir die toekomstig herstelde NG kerkverband aan te beveel, maar toe te laat dat "lidmate van die nuwe verband dit nie vanselfsprekend as belydenisskrif hoef te onderskryf nie, gëntepreteer as 'n halfhartige of selfs lafhartige besluit".
Die brief lui verder: "Dié besluit is gelees asof die Belhar-belydenis daarmee opsioneel is. Dié Belhar-besluit, gelees saam met ander besluite oor kerkhereniging, sê ondubbelsinnig: Ons stel voor die belydenis moet een van die belydenisskrifte van die herenigde kerk wees."
Daarmee sê die algemene sinode van die NG Kerk aan sy lidmate iets geweldigs, naamlik: Ons glo dit wat die Belhar-belydenis sê, is die waarheid van die evangelie, lui die brief.
Prof. Strauss sê die algemene sinode se aanbeveling is dat Belhar in die belydenisgrondslag opgeneem word, maar nie só dat almal verplig word om dit te onderskryf nie. Hy sê die rede hiervoor is dat die kerk op pad na kerkeenheid só wil beweeg dat, as dit moontlik is, die kerk nie skeur nie. Hy sê die sinode sê soos ook die briefskrywers niemand kan gedwing word om iets soos 'n belydenis te onderskryf nie. Die sinode sê nie Belhar moet geglo word nie, maar het besluit die Bybelse inhoud oor kerkeenheid, geregtigheid en versoening moet geglo en aanvaar word.
"Dit is duidelik dat die briefskrywers die klag wat in die media teen die algemene sinode ingebring is dat die sinode halfhartig is en nie 'n besluit wil neem nie, wil weerlê. In dié goed bedoelde poging dink ek nie gee hulle die sinode se besluit heeltemal korrek weer nie," het Strauss gesê.
![]()
DIE BURGER
Laat
elkeen eie ding doen
25/01/2005 07:54 - (SA)
EK wil die kerkraad van Wynberg gelukwens met sy eerlike besluit en uiteensetting van waarom hy nie die sinode se aanbevelings oor die belydenisgrondslag kan ondersteun nie (DB, 22/01).
Om watter rede is daar die beheptheid met samesmelting? Waarom kan elkeen nie maar sy eie ding doen nie? Hoe kan van bo af eensydig aan my beveel word om die belydenis waarin ek van kindsbeen geglo het, nou skielik te verander? Nogal!
Die
demokratiese optrede is dat diegene wat so sterk oor die Belhar-belydenis voel,
oorstap na waar hulle tuis voel en die res laat waar hulle tuis voel.
ERIK BARNARD
Bettysbaai
![]()
DIE BURGER
Versoening na álle kante nodig
25/01/2005 07:54 - (SA)
"DIS versoening, my vriend!" het Dawie verlede jaar tereg in sy rubriek geskryf (DB, 27/11/2004).
Versoening is waaroor dit nou in ons land moet gaan. Verskillende kante van versoening het die afgelope tyd in die koerant se kolomme aandag gekry, en het onder meer te doen met die Belhar-belydenis, Allan Boesak en PW Botha.
Die aanvaarding van die Belydenis van Belhar deur die hele NG Kerkfamilie, en hul strukturele vereniging in een kerk met erkenning van spirituele en kulturele (taal-)verskeidenheid, sal ongetwyfeld 'n unieke en baie belangrike teken van versoening in ons land wees.
Dié belydenisskrif is nie volmaak nie, maar dit praat die Bybel se taal oor kerklike eenheid, geregtigheid en versoening waarna ons in die Suid-Afrika van 2005 goed moet luister.
Die NGK se algemene sinode het ongelukkig nie 'n goeie besluit oor dié saak geneem nie, al probeer die dagbestuur van die sinodale kommissie vir leer en aktuele sake van Wes- en Suid-Kaap dit goedpraat (DB, 19/1).
Ja, die eerste deel van die sinode se besluit, dat die Belhar-belydenis as een van die belydenisskrifte in die herstelde kerkverband opgeneem moet word, is goed en reg. Maar die byvoeging dat dit nie impliseer dat almal in die nuwe kerkverband die belydenisskrif sal hoef te onderskryf nie, ontkragtig wat 'n groot en koersaanduidende besluit kon gewees het. Dr. Danie Nel en die kerkraad van Wynberg het daarom reg as hulle dit afwys (DB, 22/1). Dis te betwyfel of die besluit soos hy nou daar staan, veel met versoening sal help.
Dawie skryf in dieselfde uitgawe oor die president se vryskelding aan dr. Allan Boesak oor haatdraendheid en vergifnis. En hy skryf oor die baie Christene wat dit so swaar vind om vir Boesak te vergewe terwyl Jesus Christus ons juis anders leer. Dankie aan Dawie vir dié opmerkings. Natuurlik moet Boesak 'n tweede kans gegun word. Soos sy kerk dit reeds vóór die president gedoen het deur hom weer as predikant te legitimeer. Ook Die Burger se vergewensgesinde artikels in dié verband bevorder versoening.
Maar Hennie Bekker het ook reg as hy skryf (DB, 19/1) dat versoening na álle kante noodsaaklik is. Eensydige versoening is nie versoening nie. En versoening is ook om billik te wees, om begrip te hê vir ons onstuimige verlede, en om te aanvaar dat niémand heelpad net reg of net verkeerd gehad het nie.
Daarom is
die uitdaging aan Dawie en Die Burger steeds van toepassing: wees billik in u
beoordeling van die bewindstyd van oudpres. Botha en steek die vredeshand ook na
hóm toe uit. Al is dit nie polities korrek nie, is dit die régte ding om te
doen. Dis versoening, my vriend.
FRITS GAUM
Kaapstad
![]()
Die brief van die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele sake se dagbestuur, Wes- en Suid-Kaapse Sinode van die NG Kerk in Die Burger van 19 Januarie 2005, verwys. Die Algemene Sinode se voorstel dat die Belharbelydenis “as een van die belydenisskrifte in die herstelde kerkverband opgeneem word”, en die volgende stelling “Dit impliseer nie dat alle gemeentes, predikante, kerkraadslede, en lidmate van die nuwe verband dit vanselfsprekend as belydenisskrif hoef te onderskryf nie”, word deur die dagbestuur vertolk as sou die belydenis nie opsioneel wees nie.
Hulle sê die besluit was: “Dit is die waarheid. Glo dit. Leef dit.” Ons meen die besluit was “Dit is die waarheid. Glo dit en leef dit as jy so voel”. Dit kan tog nie geld vir die ander belydenisskrifte nie – waarom dan vir die Belharbelydenis?
Die Kerkraad van Wynberg kan op grond van die volgende redes nie hiermee saamstem nie:
|
Die bedoeling van die besluit, naamlik dat “die NGKA en die RCA wat vir ons sê dat hulle nie kans sien om Belhar volledig as belydenisskrif te onderskryf nie”, en “baie predikante en lidmate wat om verskillende redes nie kans sien om Belhar as belydenisskrif te onderskryf nie”, ook in die proses meegeneem moet word en daarom ook tevrede moet wees met die formulering van die belydenisgrondslag, impliseer dat onderskrywing of aanvaarding van die belydenis minstens vir hulle - en daarom eintlik vir almal want almal moet dit so goedkeur - opsioneel is. | |
|
Die Belharbelydenis het daarom ingevolge die gereformeerde tradisie en binne die konteks van die besluit nie die status van ‘n belydenisskrif nie. | |
|
Die herenigde kerk sal gevolglik nie aanspraak kan maak op ‘n gemeenskaplike belydenisgrondslag nie – dit sal noodwendig tot kerkregtelike sowel as gemeenregtelike probleme lei. | |
|
Ons is bewus daarvan dat dit al in gereformeerde kerkverenigingsprosesse gebeur het dat uitsonderlike maatreëls getref moes word om verskillende belydenisskrifte te akkommodeer. Dit het egter na ons wete nooit die implikasie gehad dat ‘n belydenisskrif as opsioneel vir sommige beskou is omdat hulle sterk daarteen voel of sê dat hulle nie daarmee saamstem nie. |
Daarom het die kerkraad van Wynberg op 10 November 2004 eenparig besluit dat hy ongelukkig nie die sinode se aanbevelings oor die belydenisgrondslag kan ondersteun nie. Die moderatuur is dien ooreenkomstig ingelig en met alternatiewe voorstelle bedien.
Dr Danie Nel
Voorsitter van die Kerkraad
![]()
Die Kerkbode
- Dr Danie Nel is leraar van die NG Gemeente Wynberg.
![]()
Die Kerkbode
Ek is bevoorreg om op Woensdae ’n gesamentlike Bybelstudie aan lidmate van die NG en VGKSA-gemeentes van Wynberg aan te bied. Die lede bestaan grotendeels uit toegewyde en wel belese gelowiges wat hulle nie maklik laat voorskryf nie. Die afgelope Woensdag het hulle eers ’n draai by ons kerkkantoor gaan maak – om die jongste Kerkbode te gaan haal! Hulle sou dit beslis nie gedoen het as Kerkbode maar net die amptelike spreekbuis van die amptelike kerklike standpunt was nie. Dit gee my groot vreugde om hulle ingeligte en genuanseerde menings te hoor.
Ek het ook groot waardering vir die gesprek wat u aanmoedig. Ek veronderstel dat kerklike debat ruimte moet laat vir verskillende perspektiewe en dat ons almal slegs na die waarheid kan groei wanneer ons met mekaar in gesprek tree en mekaar se standpunte uitdaag. Na my mening slaag Kerkbode goed daarin om die volgende doelwit - wat deur dr Coenie Burger en dr Hannes Koornhof geformuleer is en waarmee ek my heelhartig kan vereenselwig – te bevorder: “Ons wil bly vashou aan die moontlikheid van ’n groter, inklusiewer eenheid waar ons almal van die familie met ons saamneem op die pad.”
Danie Nel, Wynberg.
![]()
Die Kerkbode
Het die berg 'n muis
gebaar - soos wat 'n Afrikaanse dagblad in 'n hoofartikel geskryf het - of
kon die NG Kerk tydens verlede maand se Algemene Sinode op Hartenbos
uiteindelik sy Rubicon oorsteek? Jean Oosthuizen som die verskillende
indrukke van die Algemene Sinode op.
TE oordeel na die positiewe getuienis van die meeste van die bykans 400
afgevaardigdes tydens vanjaar se Algemene Sinode, is dit onbillik om te sê
die berg het ’n muis gebaar. Die afgelope sinode was op vele terreine –
veral op geestelike gebied - ’n besondere mylpaal vir die NG Kerk.
Dit is ongelukkig ook waar dat die kerk tien jaar ná die geboorte van die
Nuwe Suid-Afrika nie daarin kon slaag om sy Rubicon ten opsigte van
kerkhereniging oor te steek nie. Die blaam hiervoor kan nie nét voor die
deur van die NG Kerk geplaas word nie. Die ander drie kerke in die NG
Kerkfamilie naamlik die Verenigende Geref Kerk (VGK), die NG Kerk in Afrika
(NGKSA) en die Reformed Church in Africa (RCA) praat ook nie uit een mond
oor kerkeenheid nie.
Dat die kerk na baie jare se gesprekke oor kerkhereniging en ’n dekade nadat
die land op staatkundige gebied herenig is, geen noemenswaardige vordering
kon maak in dié verband nie, was vir baie lidmate in die NG Kerk en veral
vir hulle broers en susters van die VGK ’n groot teleurstelling.
Die frustrasie oor die gebrekkige vordering met kerkhereniging word nêrens
beter verwoord as in die besluit van die Algemene Sinode self nie. “Ons
huiwer om dit te sê, maar ons oordeel dat versuim in hierdie verband nie net
sal beteken dat ons die Here gefaal het nie, maar ook ons Suid-Afrikaanse
samelewing – miskien veral die kinders en jongmense.”
Een van die sake waaroor daar groot eenstemmigheid by sinodegangers was, is
die besondere spirituele ervaring by die sinode. “Die dinamiese en moderne
karakter van die sitting maak my opgewonde oor die koers wat die NG Kerk
inslaan,” het dr Pieter van Niekerk, predikant van die VGK in die Suid-Kaap,
by die sinode gesê.
Die bekende sangeres Annalise Wiid, wat soggens die dagwyding begelei het,
sê die kerk het haar tydens die afgelope sinode op talle maniere aangeraak.
“My kerk ontroer my, want sy begin luister na ander,” vertel Annalise. “Die
kerk vertel nie meer net haar eie storie nie, maar begin ook indringend
luister na wat ander te vertel het.” Dr Van Niekerk onderskryf dié sentiment
van Wiid en sê nóg ’n aspek wat in ag geneem moet word, is dat vandag se
mense hulle nie meer laat
voorskryf wat om te glo nie.
Dr Markus Gertenbach van Brandfort in die Vrystaat sê reguit hy het die
opening van die sinode die Sondagaand met gemengde gevoelens ervaar. “Die
liturgiese opening was mooi, maar tydabsorberend,” sê dr Gertenbach. Hy het
egter groot waardering vir die waagmoed waarmee die vergadering die
werksaamhede van die Algemene Sinode aangepak het. “Sake wat in dié verband
aandag moet kry, is die gevaar van oordrewe emosionaliteit in die stel van
argumente teenoor die gereformeerde beginsel van die Woord alleen,” meen dr
Gertenbach.
Maar dit was nie net in Hartenbos se Walvissaal waar die debatte weerklink
het nie. Die rimpelings van wat daar bespreek is, het ver en wyd uitgekring.
Die debatte op die sinodevloer is verder gevoer in die briewe- en
kommentaarkolomme van koerante, geselsprogramme op radio en in die sitkamers
van lidmate. En telkens was dit die besluite oor kerkhereniging en
homoseksualiteit wat die gesprekke oorheers het.
Aan die een kant is daar diegene, soos die moderator van die Algemene
Sinode, dr Coenie Burger, wat glo kerkskeuring moet “ten alle koste” vermy
word. Ander glo weer lidmate kan nooit “ten alle koste” behou word nie.
Hulle sê die enigste kriterium vir ’n belydenis moet wees: stem dit ooreen
met wat die Woord ons leer? Daarom kan daar geen middelposisie wees nie
omdat die NG Kerk reeds in 1998 gesê het hy aanvaar die wesenlike inhoud van
die Belydenis van Belhar.
“Ek is dankbaar oor die sterk verbintenis tot kerkhereniging, maar ook
ernstig bekommerd dat sekere stellings ten opsigte van die besluit oor
kerkeenheid die band van vertroue tussen die NG Kerk en die VGK skade doen,”
sê dr Danie Nel van die NG Gemeente Wynberg in Kaapstad. Die NG Kerk en die
VGK se gemeentes in Wynberg funksioneer reeds geruime tyd vir alle praktiese
doeleindes as een gemeente.
Dr Nel sê dit bekommer hom dat daar binne vier maande nadat die Konvent van
Eenheid wat in die Wes-Kaap gehou is - en waar dit baie duidelik gemaak is
dat dit nie aanvaarbaar is as die Belydenis van Belhar opsioneel is nie -
die Algemene Sinode presies die teenoorgestelde besluit geneem het.
Daarteenoor verwelkom die kerkraad van Plooysburg in die Noord-Kaap die
besluit dat die keuse aan lidmate, kerkrade en predikante oorgelaat word om
te besluit of hulle die Belydenis van Belhar wil onderskryf. Die kerkraad sê
hulle betreur die wyse waarop sekere predikante die Belydenis van Belhar in
die openbaar onderteken het omdat dit morele druk op lidmate plaas wat nog
daaroor besin.
Maar juis hierdie balanseertoertjie om almal tevrede te stel en lidmate “ten
alle koste” te behou, vra duidelike leierskap van die kerk. As lidmate nie
die een belydenisskrif hoef te onderskryf nie, waarom dan die ander drie
onderskryf, word onder meer gevra.
Oor die debat rondom homoseksualiteit was daar tydens die sinode ook nuwe
klanke. Hoewel daar steeds wyd uiteenlopende vertolkings van die beskikbare
Skrifgegewens oor homoseksualiteit bestaan, is daar uiteindelik ooreengekom
op ’n konsensusbesluit wat vir albei groepe aanvaarbaar was. Dit opsigself
was ’n groot deurbraak. Die Moderatuur se reaksie op dr André Bartlett van
die NG Gemeente Aasvoëlkop se vertolking van die implikasie van “volwaardige
lidmaatskap”, het egter opnuut die vraag in die kollig geplaas of gelowige
homoseksuele lidmate nou tot die kerk se ampte toegelaat mag word.
Volgens die sinode se besluit behoort alle mense ongeag hulle seksuele
oriëntasie en op grond van hulle doop as volwaardige lidmate van die kerk
aanvaar te word. Die sinode het egter ook besluit slegs die verbintenis
tussen “een man en man en een vrou” kan as ’n huwelik beskou word.
Daar bestaan nog geen duidelikheid oor die toelating van homoseksuele
gelowiges in die kerk se ampte nie en die sinode het hom nie daaroor
uitgespreek nie. Dit vorm deel van die voortgesette studie waarop daar
besluit is. Gevolglik is gay gelowiges nog net so in die duister daaroor as
voorheen en niemand weet wat is die kerk se standpunt as ’n homoseksuele
persoon wat in ’n verhouding is, tot een van die kerk se ampte benoem word
nie.
Annalise Wiid verwoord haar belewenis van die kerk se standpunt oor
homoseksualiteit soos volg. “My kerk ontroer my, want sy hink. Sy gaan mank
aan voldoende kennis en ervaring om ’n ingewikkelde saak soos
homoseksualiteit met helder visie te hanteer. Sy staan met een voet op die
gesag van die Bybel en met die ander in ’n wêreld vol kompleksiteite en pyn
waarvoor daar nie kitsBybelraad is nie. Aan die hand van dieper Skrifriglyne
moet die kerk nou sy weg vind hoe om lief te hê sonder om te laat verval.
Hoe om vooroordeel vir waarheid te verruil.”
Me Marietjie van Loggerenberg, ’n pastorale terapeut wat aan homoseksuele
mense berading gee, het aan Kerkbode vertel hoe sy met ’n versigtige maar
hoopvolle verwagting sinode toe is. Sy vertel ook hoe ontroer sy was toe ds
Cassie Carstens aan die sinode vertel het van sy homoseksuele seun vir wie
hy nie anders as net lief kan wees nie. “Ek was diep ontroer en het ná die
debat skielik die groot sterk arms van dr Kobus Gerber om my gevoel. Hy het
my getroos. Troos van die NG Kerk? Dit was vreemd. Dit was nuut. Dit was
heerlik en hemels,” sê Marietjie.
Terwyl die NG Kerk in die woorde van Annalise Wiid nog op baie terreine
hink, maar ook ontroer en moed gee, was dit die jeug wat tydens die sinode
se afsluiting op ’n simboliese, maar treffende wyse aan die kerk se leiers
gesê het waarheen wil húlle hê die kerk moet beweeg.
Die jongmense het die Moderatuur verhoog toe genooi en met hulle hande op
die Moderatuur se skouers het hulle een vir een na die mikrofoon gestap en
aangehaal uit die Belydenis van Belhar: “Ons glo in die Drie-enige God,
Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel,
beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe ... dat
die eenheid van die kerk van Jesus Christus daarom gawe én opdrag is; dat
dit ’n samebindende krag is deur die werking van Gods Gees, maar
terselfdertyd ’n werklikheid is wat nagejaag en gesoek moet word en waartoe
die volk van God voortdurend opgebou moet word.” - jean@tydskrifte.co.za
![]()
DIE BURGER
Belhar-besluit het leemte
29/10/2004 07:34 - (SA)
|
Die besluit van die algemene sinode van die NG Kerk oor kerkhereniging, sowel as die brief van die moderatuur van die Wes- en Suid-Kaapse sinode (DB, 16/10) verwys. Ek is dankbaar oor die sterk verbintenis tot kerkhereniging, maar ernstig bekommerd dat sekere stellings die vertroue skaad.
Binne vier maande nadat die konvent van eenheid dit baie duidelik gemaak het dat dit nie aanvaarbaar sou wees as die Belydenis van Belhar opsioneel is nie, het die algemene sinode presies die teenoorgestelde besluit. Die moderatuur, wat ook in die uitvoerende komitee van die konvent dien, verdedig die besluit as 'n poging "om die gesprek tussen al die lede van die familie weer op dreef te kry te midde van, onder meer, die huidige konflik tussen die VGKSA en NGKA". Dit word soos volg in die sinodebesluit gestel: "Ons is egter ook verbind aan die NGKA en die RCA wat vir ons sê dat hulle nie kans sien om Belhar volledig as belydenisskrif te onderskryf nie."
Ek verstaan dat dit 'n vername rede was waarom baie afgevaardigdes besluit het om die sinode se kompromis te steun. Die aard van die konflik of die redes waarom die NGKA nie die Belydenis van Belhar wil aanvaar nie, word nie vermeld nie. Met respek: Die algemene sinode en moderatuur oefen hier 'n keuse uit wat as 'n legitimering van die posisie van die NGKA vertolk kan word. Dié oordeel word gedoen in die volle besef van hoe moeilik die situasie was, en dat dit waarskynlik nie die bedoeling was om die versoeningsproses tussen die VGKSA en die NGKA moeiliker te maak nie. Ek vertrou dat die saak reggestel sal word.
Wanneer lidmate versoek word om 'n belydenis te aanvaar, mag daar slegs een kriterium wees: Stem dit ooreen met wat die Woord ons leer? Daarom kan daar geen middelposisie wees nie. Dit is jammer dat dit nie deur die sinode of die moderatuur gekommunikeer is nie - 'n wesenlike leemte.
Teenoor misleiding, teenoor alle valse religiositeit en valse aansprake, verenig 'n belydenis gelowiges om die bevrydende waarheid van God se Woord te bely. Dit roep ons op om ons vrese, geskille, bagasie en politiekery te laat vaar omdat ons binne die gemeenskap van gelowiges deur die Heilige Gees in 'n uur van beslissing aangeraak word.
Die besluit dat die
belydenis opsioneel moet wees, ontneem baie lidmate van die NGK, die NGKA en die
RCA van hierdie voorreg. Dis jammer, omdat dit nie die enigste opsie is waardeur
ons ruimte vir lidmate kan skep om die belydenis toe te eien nie.
DANIE NEL
Wynberg
![]()
DIE BURGER
Oorweeg hierdie opsie vir Belhar
14/10/2004 07:58 - (SA)
|
Hiermee my waardering vir die hoofartikel (DB, 12/10) oor die voorstel van die NG Kerk se algemene sinodale kommissie dat die Belydenis van Belhar in die belydenisgrondslag van 'n herenigde kerk opgeneem word, maar dat geen lidmaat, predikant of gemeente dit as belydenisskrif hoef te onderskryf nie.
Na my mening het u goed daarin geslaag om 'n noodsaaklike profetiese vermaning tot die leierskap van die NGK te rig.
Die algemene sinode het sterk prinsipiële gronde om sy lidmate te versoek om die Belydenis van Belhar te aanvaar:
|
Die sinode het reeds verklaar dat die Belydenis van Belhar met die Woord van God ooreenstem; | |
|
Baie van sy lidmate ervaar dat die gebrek aan eenheid, versoening en geregtigheid wat steeds hier en wêreldwyd onder Christene voorkom, die goeie nuus sleg maak; | |
|
Die moontlikheid is baie sterk dat dit 'n probleem in multikulturele samelewings sal bly waar groepsbelange aanleiding tot diskriminasie gee - ook vir lidmate van die NGK. |
Die VGK het ook sterk prinsipiële gronde om van die NGK te verwag om die Belydenis van Belhar as volwaardige belydenisskrif te aanvaar:
|
'n Belydenisskrif kan nie in terme van die gereformeerde kerkreg opsioneel wees nie; | |
|
Die gemenereg beskou die kerk as 'n gemeenskap wat op die basis van sy belydenis vergader. Wanneer die belydenisgrondslag verander, moet al die lidmate hierin geken word. |
Die kompromisvoorstel sou impliseer dat alle lidmate van sowel die NGK as die VGK moet toestem dat 'n deel van hul kerk se belydenisgrondslag opsioneel is - die deel wat oor eenheid, versoening en geregtigheid handel. Watter prinsipiële redes sou die algemene sinode van die NGK kon aanvoer om dit van VGK-lidmate te verwag?
'n Beter opsie sou wees om te versoek dat daar in die bepalings van die kerkorde van die herenigde kerk voorsiening gemaak moet word vir mense wat probleme met sekere formulerings in die Belydenis van Belhar het, sodat gemeentes, ringe en streeksinodes sulke besware op 'n verantwoordelike en deursigtige wyse kan hanteer. Dit is, soortgelyk as die drie formuliere van eenheid, nie bo die Skrif verhewe nie.
Só sal daar, binne die reformatoriese tradisie, onderhandel kan word oor enige wysiging van formulerings sonder om aan die wesenlike inhoud te verander. Hierdie moontlikheid word in art. 2.3 van die kerkorde van die VGK verwoord.
Dié opsie bied aan enige lidmaat 'n redelike moontlikheid om deel te word van die herenigde kerk se belydenisvorming sonder om die eenheidsproses verder te vertraag.
Danie Nel,
Wynberg.
![]()
Die Kerkbode
Die Kerkbode
Die Kommissie vir Leer en Aktuele Sake van die Vrystaatse Sinode volstaan by
sy kritiek teen die gewilde Alpha-kursus ondanks beskuldigings dat dit ’n
oppervlakige beoordeling van die kursus was en ’n wanvoorstelling daarvan maak.
Die voorsitter van die kommissie, dr Dawie Oosthuysen, sê die NG Gemeente
Wynberg het die kommissie ten onregte onder ernstige verdenking geplaas deur
hulle van wanvoorstellings te beskuldig. Dr Oosthuysen sê die wetenskaplike aard
van ’n ondersoek word gemeet aan die vraag of die primêre bronne geraadpleeg is
en of die kursus beoordeel is aan die hand van wat dit voorgee om te wees.
Volgens hom het die kommissie aan dié kriteria voldoen. Hy sê die integriteit
van die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake is bo alle verdenking.
“Die Alpha-kursus is as ’n eerste kennismaking met die Christelike geloof
bedoel. Die voorveronderstelling is tog dat wat vir ons ’n grondoortuiging is,
’n hartsaak, hierin vervat sal wees. Die kursus is aan die hand hiervan
beoordeel. Die kursusmateriaal is sistematies deurgewerk, primêre bronne is
geraadpleeg en ’n teologiese beoordeling het gevolg,” het dr Oosthuysen gesê.
Die voorsitter van Wynberg se kerkraad, dr Danie Nel, sê dit sal nie in die
beste belang van die kerk se getuienis wees as die geskil voortydig deur die
partye in die media gedebatteer word nie. Dr Nel sê hulle glo dat die Moderamen
van die Vrystaatse Sinode, ná die volledige voorlegging van die appèlgronde en
die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake se reaksie daarop, in staat sal
wees om oor die meriete van die appèl te oordeel.
![]()
Die Kerkbode
10/2003
KAAPSTAD - Die sinodale kommissie vir Leer en Aktuele Sake van die Vrystaatse NG sinode het wanvoorstellings aan die afgelope sinode gemaak oor die ontstaan en die inhoud van die gewilde Alpha kursus wat ‘n ernstige ekumeniese verleentheid vir die NG Kerk veroorsaak het.
So sê dr Danie Nel, voorsitter van die NG gemeente Wynberg se Kerkraad. Die kerkraad het ingevolge die kerkorde van die NG Kerk appél aangeteken teen die verslag wat voor die Vrystaatse Sinode gedien het. Dr Nel sê die kommissie het wesenlike foute begaan en nie een van die kommissielede het eers die Alpha-kursus bygewoon nie. Slegs drie van die lede het aangedui dat hulle die geheel of slegs dele van die kursusmateriaal bestudeer het. Volgens dr Nel het nie een van die kommissielede die waarnemings en bevindings van die verslag met verteenwoordigers van die Alpha kursus getoets nie. Hy sê dit is ongewens dat ‘n standpunt ingeneem word oor ‘n kursus soos Alpha terwyl daar op ‘n oppervlakkige wyse ondersoek ingestel is na die aard en inhoud van die kursus. Wynberg se kerkraad het onderneem om binne dertig dae verder uit te brei op hulle appélgrond en dit aan die skriba van die appélliggaam te besorg. Die Alphakursus wat wêreldwyd groot aanhang geniet is onder meer deur die Vrystaatse sinodekommissie bestempel as ‘n afgewaterde vorm van die evangelie en gemeentes word daarteen gewaarsku.
![]()
Die Kerkbode
Dink die leierskap van die NG Kerkfamilie nie dat die kerkeenheid-
“debat” nou al vervelig raak vir lidmate nie? In die “Ope Brief” van die NG
Gemeente Wynberg in Kerkbode
(12
September 2003) word myns insiens ’n baie belangrike feit geboekstaaf. In
1829 was daar wit en bruin lidmate in die Wynberg-gemeente. Na die afstigting
van die Sendingkerk in 1881 (en natuurlik as gevolg van latere verwikkelings met
aparte groepsgebiede) het wit en bruin lidmate se kerkbywoningsplekke geskei.
Sedert die Groepsgebiedewet opgehef is, is daar geen beperkings op waar mense
mag woon nie. Daar is ook geen beperkings om die kerk wat die naaste aan jou
woonplek is by te woon nie. Dit staan dus wit, bruin, swart en Indiërlidmate vry
om die kerkdiens van hulle keuse by te woon en by daardie gemeente in te skakel.
Die skeidingsproses is dus nou polities omgekeer.
My moedelose vraag is dus: waarom word lidmate nou al jare gekonfronteer met en
bepreek oor kerkeenheid asof die probleem óns s’n is? Die probleem is tog
duidelik ’n strukturele probleem, soos wanneer twee maatskappye saamsmelt. Daar
is veranderings aan die bestuur en die direksie, daar is werkverliese, en so
meer. Dit is beswaarlik ’n probleem waarmee hulle kliënte opgesaal wil wees.
Waarom die gedrewenheid dat die Afrikaanse kerke en die NG Kerkfamilie moet
“saamsmelt” terwyl die Engelse kerke al eeue lank ongestoord die Boodskap
verkondig aan wie ook al hulle drumpel betree en met hulle belydenisskrifte kan
saamleef?
Die kerkleiding moet liefs sy energie toespits op maatskaplike betrokkenheid in
die gemeenskap en die natuurlike en die ongedwonge geografiese verspreiding van
mense laat bepaal waar hulle kerk toe wil gaan.
| In die “Roepingsverklaring” wat die Algemene Sinode van die NG Kerk in 2002 uitgereik het, staan: “Ons wil graag herenig met ons Kerkfamilie, soos ons glo God dit wil hê.” Al reken sommige lidmate die debat/gesprek oor hierdie saak raak “vervelig”, sal ons maar daarmee moet aanhou totdat iets gebeur … soos ons glo God dit wil hê! - Red. |
![]()
Die Kerkbode
Verskeie gemeentes van die NG Kerk en die Verenigende Geref Kerk (VGK) is
besig om op gemeentevlak nader aan mekaar te beweeg met die oog op eenwording
ondanks die probleme wat daar op sinodale vlak bestaan om die NG Kerkfamilie te
herenig.
Op Somerset-Wes in die Wes-Kaap het die Helderberg-NG Kerk-gemeente en die
VGK-gemeente van Somerset-Wes pas besluit om een gemeente te word. In Pretoria
het die kerkraad van Pretoria-Oosterlig die inhoud van die Belydenis van Belhar
aanvaar en verklaar dat dit nie in stryd met die Drie Formuliere van Eenheid is
nie. En in Wynberg het die gemeente ’n ope brief aan die vier moderature van die
NG Kerkfamilie gestuur waarin hulle sê dat die stadige pas waarmee die NG
Kerkfamilie vorder om te herenig, besig is om ’n ernstige
geloofwaardigheidskrisis in die NG Kerkfamilie te veroorsaak (lees die volledige
ope brief.)
Ds Hannes Theron van die Helderberg-gemeente sê hulle glo die besluit om saam
met die VGK van Somerset-Wes één gemeente te word, ’n stap is in die regte
rigting en die gemeentes het die besluit in gehoorsaamheid aan God geneem. Ds
Theron sê soos die VGK-Somerset-Wes die Helderberg-gemeente nodig het “om
waarlik een” te word, het Helderberg ook die VGK-Somerset-Wes nodig.
Ds Theron sê hierdie proses sal saam met die ander twee NG gemeentes in die dorp
aangepak word. Die drie NG gemeentes lê almal binne die grense van die
VGK-Somerset-Wes.
Terwyl dit lyk asof die herenigingsproses in die Familie van NG Kerke nog
geruime tyd mag duur, is daar ook al hoe meer kerkrade en gemeentes van die NG
Kerk wat ernstig aandag skenk aan die Belydenis van Belhar.
Die kerkraad van Pretoria-Oosterlig het onlangs vir prof Andrew Philips van die
VGK genooi om hulle toe te spreek oor die betekenis van die Belydenis van
Belhar. Volgens prof Philips moet die NG Kerk homself ernstig afvra of hy
werklik die inhoud van hierdie belydenis kan aanvaar. “Hulle mag dit nie maar
net doen ter wille van kerkeenheid nie, en nog minder omdat hulle sou kon voel
dat húlle nou die verontregtes geword het!” het prof Philips gesê.
Die kerkraad van Pretoria-Oosterlig het kerkraadslede versoek om die leiding te
neem met die verdere in-diepte bespreking van die Belydenis van Belhar in
kleingroepverband. - Kaapstad/Pretoria
DIE BURGER
Kerkvereniging
25/08/2003 08:57 - (SA) Redaksionele Kommentaar
|
DIE stemme wat opgaan ten gunste van die vereniging van die vier lede van die NG Kerkfamilie word al hoe dringender. En dit word al hoe moeiliker om dié stemme, wat hulle op 'n morele beginsel baseer, te weerstaan met argumente wat bloot die praktyk as uitgangspunt hanteer.
Pas het die NG gemeente Wynberg in Kaapstad 'n ope brief aan die moderature van die NG familie geskryf uit frustrasie dat hy nie kan vorder na eenheid met die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) se gemeente Wynberg nie. Die gemeente vra dat indien die res van die NG Kerk nog nie gereed is vir die stap nie, hy toegelaat moet word om sy gang te gaan.
Op sigself is daar praktiese probleme met die vereniging, en 'n mens moet begrip daarvoor hê. So 'n stap is 'n ingewikkelde regsproses wat nie valkuile moet bevat wat die stap later ongedaan kan maak nie.
Tog kry 'n mens die indruk dat daar te veel mense is wat agter die praktiese probleme skuil om die vereniging te keer. As instituut wat uiteindelik slegs gehoorsaam moet wees aan die goddelike opdrag tot eenheid, kan dit nie so voortgaan nie. As die NG Kerk dan prinsipieel nie met die vereniging wil voortgaan nie, moet hy openlik so sê; dan weet almal minstens waar hy staan.
Uiteraard is daar sekere sake wat opgelos moet word. Geeneen van die kante moet alte onbuigsaam wees oor die status van die Belydenis van Belhar nie. Vir Afrikaans moet daar op alle vlakke in die nuwe kerk ruim plek wees.
Maar aangesien daar geen prinsipiële teologiese verskille is nie, moet die probleme nie die vereniging teenhou nie. En terwyl 'n mens besig is, kan die volgende stap gerus wees om die Gereformeerde Kerke en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die kerke wat uit húl sendingwerk voortgekom het, ook by die verenigingsproses te betrek.
![]()
DIE BURGER
NEELS JACKSON
PRETORIA. - Die NG gemeente Wynberg het 'n ope brief aan die vier moderature van
die NG kerkfamilie geskryf uit frustrasie dat hy nie kan vorder na eenheid met
die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) se gemeente Wynberg nie.
Die uitvoerende bestuur van die kerkraad het geskryf dis vir hom moeilik om die stadige vordering aan lidmate te verduidelik.
Hulle praat al 12 jaar lank met die naburige VGK-gemeente oor eenheid. Hul predikant, dr. Danie Nel, het verlede jaar aan die algemene sinode gevra om dit vir hulle moontlik te maak "om die huwelik te voltrek". Dié sinode het dit verwys na die beoogde nasionale konvent in die NG kerkfamilie, maar dis nou onbepaald uitgestel.
Wynberg het gesê dis vir hom "onaanvaarbaar dat gemeentes, ringe en sinodes wat gereed is om te verenig, as gyselaars gehou word deur wat lyk na 'n onbuigsame gesindheid in die kerk se leierskap oor 'n belydenis wat juis die eenheid van die kerk wil dien".
Hulle vra aan die moderature van die NG Kerk, die Reformed Church in Africa en die NG Kerk in Afrika om hul lidmate te versoek om die Belydenis van Belhar te aanvaar. Daarby vra hulle aan die moderatuur van die NG Kerk hoe hulle aan lidmate moet verduidelik dat dieselfde sinode wat gesê het Belhar is in ooreenstemming met die Woord van God, nie kans sien om dit as belydenis te aanvaar nie.
Aan die VGK se moderatuur vra hulle of die VGK bereid is om in 'n verenigde kerk voorsiening te maak vir dié wat besware teen sekere formulerings van Belhar het.
Hulle het gesê dat mense hulle nie meer wil laat voorskryf oor wat hulle moet glo nie. Wanneer sulke mense egter ruimte kry om self geloofswaarhede toe te eien, lei dit tot beter resultate. Wynberg wil weet of die VGK bereid is om vir sulke mense voorsiening te maak.
Hulle maan die moderature ook dat hulle nie moet sê hulle is haastig met kerkvereniging as hulle nie erns maak met die dringende formulering van die belydenisgrondslag van 'n nuwe kerk nie.
![]()
Die Kerkbode
19 Augustus 2003
Ons rig hierdie ope brief aan die vier moderature van die Algemene Sinodes van die NG kerkfamilie: die NG Kerk (NGK), die NG kerk in Afrika (NGKA), die Reformed Church in Africa (RCA) en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (VGKSA). Ons glo dat dit in die belang van die onderskeie kerke se openbare getuienis is dat die leierskap die geleentheid moet kry om duidelike antwoorde te gee op vrae wat in die harte van hul lidmate leef oor waarom die proses van kerkeenheid so weinig vorder ten spyte van ernstige voornemens wat in sinodale besluite verwoord is. Ons ondervind moeite om dit aan besorgde lidmate te verduidelik: ons meen die slakkepas skep 'n situasie wat besig is om 'n ernstige geloofwaardigheidskrisis vir die NG Kerkfamilie te veroorsaak. Ons skryf hierdie brief nie as persone wat van die kantlyn akademiese kritiek lewer nie, maar wat midde in die proses worstel met dieper vrae omdat ons dit beleef dat ons gemeente deur die kerk se leierskap aan bande gelê word terwyl ons juis probeer om die sinodes se besluite uit te voer.
Toe die gemeente van Wynberg in 1829 as die eerste dogter van die Groote Kerk binne die Kaapse skiereiland afgestig het, was sommige van die stigterslede bruin lidmate. By daaropvolgende sinodes is die gemeente voorgehou as voorbeeld waar bruin en wit in harmonie en vrede die Here saam dien. Hierdie besonderse aspek van die karakter van die gemeente het ongelukkig begin skade ly nadat die NG Sendingkerk Wynberg in 1881 afgestig het. Hoewel 'n groot getal bruin lidmate destyds verkies het om lidmate van die NG Kerk Wynberg te bly, het daar tog met die verloop van die jare vervreemding ingetree. Die twee sustergemeentes van Wynberg was gedurende die apartheidsjare 'n sprekende voorbeeld van die skeuring, agterdog en selfs vyandskap wat in die gemeenskap voorgekom het.
Hierdie situasie het vanaf 1991 begin verander. Die twee gemeentes het 'n proses van versoening aangepak. Dit was 'n moeilike en soms pynlike reis van saam bid, saam praat, saam bely en saam doen. Die Here het ons geseën: kerkraadslede van beide gemeentes het dikwels spontaan getuig dat hulle die greep van die Heilige Gees op ‘n heel besondere wyse beleef het tydens die vergaderings, eredienste, pinksterbidure en gesamentlike nagmaalvierings. Na tien jaar het die kerkrade van die NGK Wynberg en die VGKSA Wynberg in 2001 'n historiese besluit geneem om die proses in werking te stel dat die gemeentes sal verenig: ons het verloof geraak. Ons funksioneer in baie opsigte reeds as een gemeente.
Ons leraar, Dr Danie Nel, het as afgevaardigde die Algemene Sinode in 2002 versoek om dit vir ons moontlik te maak om die huwelik te voltrek. Die sinode het dit goedgedink om ons voorstelle te verwys na 'n beoogde konvent tussen die Algemene Sinodes van die NGK, die RCA, die NGKA en die VGKSA.
Die pers het berig dat die konvent oor kerkeenheid wat later vanjaar deur die NG Kerkfamilie gehou sou word, op 19 Junie 2003 onbepaald uitgestel is op 'n vergadering van die moderature van die vier kerke omdat die NGKA nie op sy algemene sinode in Mei 2003 wou toestem dat predikante van die VGKSA ook na die NGKA beroep kan word nie. Ons verneem die rede was dat die NGKA nie die legitimasie van die predikante van die VGKSA erken nie omdat hulle die Belydenis van Belhar onderteken het.
Die idee van 'n konvent binne die kerklike konteks in Suid-Afrika het sy ontstaan in Wynberg. Die proses van versoening tussen die NGK en die VGK gemeentes van Wynberg het gaandeweg na die onderskeie Ringe oorgevloei. In 1992 het die Ring van Wynberg van die NG Kerk en die Ring van Wynberg van die NG Sendingkerk besluit om 'n konvent as basis van samewerking te aanvaar. 'n Konvent is 'n byeenkoms waar afgevaardigdes buite die amptelike strukture vergader, verhoudings bou, en verbintenisse met mekaar aangaan wat nie deur kerkordelike bepalings afgedwing of afgekeur kan word nie, maar op gesag van hulle integriteit. Dit het onder andere daartoe gelei dat elke NGK kerkraad binne die Ring van Wynberg in 1998 aangedui het dat hulle die Belydenis van Belhar as deel van die verenigde kerk se belydenisgrondslag sal aanvaar.
Dit is daarom vir ons geheel en al onaanvaarbaar dat die amptelike leierskap van die kerke besluit het om die konvent op nasionale vlak onbepaald uit te stel oor 'n rede wat die konvent juis moet aanpak, en heel waarskynlik ook sinvol kan oplos. Hierdie ongelukkige gebeure bevraagteken die wysheid dat die moderature van die sinodes outomaties ook die leierskap van die konvent vorm.
Dit is ook vir ons onaanvaarbaar dat gemeentes, ringe en sinodes wat gereed is om te verenig, langer gyselaar gehou word deur wat lyk na 'n onbuigsame gesindheid in die kerk se leierskap oor 'n belydenis wat juis die eenheid van die kerk wil dien. Ons wil aan die moderature die geleentheid bied om te reageer. Ons versoek hulle daarom om duidelike antwoorde op die volgende vrae te gee:
1. Wat is die moontlikheid dat die moderature van die NGK, die RCA en die NGKA hulle lidmate sal versoek om die Belydenis van Belhar te aanvaar? Tot dusver het nog net die Kerkbode 'n soortgelyke aanbeveling gemaak. Ons sal graag elke moderatuur se antwoord verneem.
2. Hoe moet ons aan die lidmate van ons gemeente verduidelik dat dieselfde sinode van die NGK wat gesê het dat die Belydenis van Belhar met die Woord van God ooreenstem, nie kans sien om dit te aanvaar as hulle belydenis nie? Beteken dit dat die NGK nog nie so sterk voel dat 'n gebrek aan eenheid, versoening en geregtigheid onder Christene die geloofwaardigheid van die evangelie op die spel plaas nie, veral wanneer 'n kerk deur woord of daad leer dat dit reg of selfs Skriftuurlik is? Hierdie probleme kom steeds in ons land en in ons kerke voor. Die moontlikheid is baie sterk dat dit 'n probleem sal bly omdat ons 'n multi-kulturele samelewing het. Wat hou die NGK terug? Daar is tog baie van hulle lidmate wat ook aan die ontvangkant van diskriminasie is.
3. Hoe moet ons aan die jeug, wat hulle lewens vir Christus gegee het en Hom graag wil dien in 'n kerk wat alle gelowiges van ons gemeenskap verteenwoordig en deur alle mense in ons omgewing ernstig opgeneem word, verduidelik dat ons nie regtig een gemeente met ons aanverwante buurgemeente kan word nie omdat die afgevaardiges na die sinodes vir 'n belydenis terugdeins wat basies die volgende sê:
| Daar is net een kerk en net een voorwaarde vir lidmaatskap (geloof in Jesus Christus). Die mense rondom ons wat nie glo nie, moet kan sien dat die kerk een is. | |
| Die kerk moet mense met mekaar versoen. Die kerk kan dit nie doen nie as hy leer dat dit reg is as witmense, swartmense en bruinmense apart moet leef en aparte kerke moet hê. As die kerk dit wel leer, dwaal die kerk omdat die Bybel ons anders leer. | |
| Die Here vra die kerk om te protesteer as daar teen mense verkeerd opgetree word en om te staan teen onderdrukking in enige vorm. |
4. Die feit dat die ontstaan van die belydenisskrif direk verband hou met die teologiese regverdiging van apartheid deur die NGK in die verlede, maak, na ons oordeel, dit prinsipieël noodsaaklik dat ons alles in die stryd sal werp om dit wat in ooreenstemming met die Woord van God is, soos wat dit in die Belydenis van Belhar verwoord is, gesamentlik in die verenigde kerk te bely. Stem die moderatuur van die NGK saam?
5. Is die moderatuur van die VGKSA bereid om in die bepalings van die kerkorde van die verenigde kerk voorsiening te maak vir mense wat probleme met sekere formulerings in die Belydenis van Belhar het?
6. Ons lewe in 'n samelewing waar mense hulle nie meer laat voorskryf deur strukture van bo oor wat hulle moet glo en hoe hulle dit moet glo nie - veral wanneer hulle die indruk kry dat hulle geforseer word om dit volgens 'n bepaalde voorskrif te doen. Wanneer die ruimte egter aan sulke mense gebied word om geloofswaarhede toe te eien, lei dit tot beter resultate. In watter mate is die moderatuur van die VGKSA bereid om vir sulke mense in die belydenisgrondslag van die nuwe kerk voorsiening te maak?
As die leierskap van die kerke nie erns maak met die dringende formulering van die belydenisgrondslag van die verenigde kerk nie, dan moet hulle nie verklarings en besluite bekend maak wat te kenne gee dat hulle haastig is om die kerk te herenig nie.
Ons het nie probeer om stemme vir hierdie ope brief te werf om 'n nuwe drukgroep te vorm nie. Ons wil u egter versoek om ons nie om hierdie rede minder ernstig op te neem nie. Ons kan nie toelaat dat die roeping en getuienis van ons gemeente aan bande gelê word deur wat ons beleef as onbuigsaamheid en 'n gebrek aan kreatiewe leiding nie.
Uitvoerende Bestuur van die Kerkraad: NG Kerk Wynberg
Voorsitter: Dr. D.T. Nel
![]()
Die Kerkbode
1 November 2002 - Deel 169 - Nommer 9
NG Kerk gereed vir hereniging
PRETORIA - Die NG Kerk gaan aanstaande jaar skouer aan die wiel sit om so gou as moontlik die vier kerke in die NG Kerkfamilie te herenig. Dit blyk uit die aanbevelings en besprekings van die afgelope Algemene Sinode wat in Pretoria gehou is. Die sinode het sy teleurstelling uitgespreek dat daar nog so min vordering ten opsigte van kerkeenheid gemaak is sedert 1994 se besluit om weer in een kerkverband te herenig.

Dr Danie Nel (links) van die NG Gemeente Wynberg en ds James Buys van die Wynberg-gemeente van die VGK, se kerkrade het hulle reeds verbind tot die vestiging van net een gemeente in Wynberg.
Die Algemene Sinode het die Algemene Sinodale Kom- missie (ASK) opdrag gegee om in aanraking te kom met die Verenigende Geref Kerk (VGKSA), die NG Kerk in Afrika (NGKA) en die Reformed Church of Africa (RCA) en die moontlikheid te ondersoek om sou gou as moontlik 'n nasionale konvent te reël met die oog op die verkryging van een kerkverband.
Sinodegangers wat aan die bespreking oor kerkeenheid deelgeneem het, was meestal sterk ten gunste van kerkhereniging in die NG Kerkfamilie. Die sinode het 'n beroep op alle gemeentes en kerkvergaderings gedoen om nou reeds doelgerig deel te neem aan samewerkingsprojekte met die ander kerke in die NG Kerkfamilie. Die ASK sal ook 'n werkstuk opstel om aan plaaslike gemeentes wenke en leiding te gee hoe om samewerking te bevorder. In Kaapstad het die gemeentes van die VGK en die NG Kerk in Wynberg reeds ver gevorder op die pad na kerkeenheid. Volgens dr Danie Nel van die NG Gemeente Wynberg het die twee gemeentes as 't ware reeds "verloof" geraak. Die twee gemeentes, wie se kerkgeboue skaars 200m van mekaar geleë is, het vir jare feitlik as vreemdelinge by mekaar verbygeleef.
Ds James Buys, leraar van die Wynberg-gemeente van die VGK en moderator van die vorige Algemene Sinode van die VGK, sê die NG Kerk het sedert die instelling van die groepsgebiedewet in 1962 jare lank feitlik niks gedoen om die gemeente te help nie. Die twee gemeentes het egter in 1991 weer met mekaar begin kommunikeer en in 1992 het die Wynbergringe van die NG Kerk en die VGK besluit om 'n konvent as basis vir samewerking te aanvaar.
Die twee kerkrade het hulle verbind tot die vestiging van net één gemeente in Wynberg. Besoek Wynberg-gemeente se webbladsy by www.ngkerkwynberg.co.za
![]()
Beeld
Donderdag 17 Oktober 2002
Wynberg-gemeentes wil een wees terwyl ander nog verskil
– Neels Jackson –
Terwyl die groot proses van kerkhereniging in die NG Kerk-familie sukkel om
op dreef te kom, het twee Kaapse gemeentes van onderskeidelik die NG Kerk en
die Verenigende Gereformeerde Kerk ver gevorder om op plaaslike vlak te
verenig.
Dr. Danie Nel van die NG gemeente Wynberg het aan die sinode gesê hy het gekom om saam met die VGK-gemeente Wynberg ``ouers te vra'' op die algemene sinode. Dit beteken die algemene sinode moet 'n besluit neem wat dit vir die twee gemeentes moontlik maak om een te word.
Die sinode het dié versoek na 'n kommissie verwys wat tydens die sinode 'n aanbeveling sal doen.
As die vereniging voortgaan, sal hulle een gemeente word wat aan sowel die NG Kerk as die VGK behoort. Die leraars sal predikante van albei kerke wees en lidmate sal ook aan albei kerke behoort.
Volgens Nel sal baie van die twee gemeentes se bedrywighede volgende jaar reeds saam aangepak word. Net een kategesestelsel sal byvoorbeeld gebruik word.
Ds. James Buys, predikant van die VGK-gemeente Wynberg en moderator van die VGK, het gesê die vereniging kan 'n teken van hoop wees terwyl baie mense al wanhopig begin raak oor die moontlikheid van eenheid in die NG Kerk-familie.
Dit is egter afhanklik van wat die algemene sinode van die NG Kerk vandeesweek besluit.
njackson@beeld.com
![]()
| Sinodebode van die Kerkbode |
| 6 Oktober 2002 - Nommer 3 - Nuusblad by Algemene Sinode - Ook te lees by http://www.christene.co.za |
Gemeentes 'raak verloof'
Ds. James Buys, leraar van die Wynberggemeente van die VGK en moderator van die vorige Algemene Sinode van die VGK, vertel dat sy gemeente in die jare sestig een van die leidende gemeentes in die destydse NG Sendingkerk (NGSK) was. Maar toe kom die Groepsgebiedewet van 1962 en dien die gemeente ’n groot knou toe. Van die grootste wyke - Constantia, Bergvliet, Plumstead en Wynberg - is weens die gedwonge verskuiwing van lidmate erg beïnvloed.
Volgens ds Buys is vertoë wat die Sinode van die NGSK in 1949, en weer in 1950, in ’n brief aan die Kaapse Sinode van die NG Kerk gerig het vir bystand teen die apartheidsbeleid, nooit beantwoord nie. "Die lidmate van die NGSK was ontnugter. Hulle het ervaar dat hulle geloofsgenote terselfdertyd die mense was wat hulle teengestaan het. Die NG Kerk het niks gedoen om hulle te help nie. Daar was ook nie eers woorde van meegevoel nie."
Vir meer as veertig jaar was dit die status quo Wynberg. Tot op ’n dag dat ’n bruin vrou, wat haar werk verloor het, by die pastorie van die wit dominee, dr Danie Nel, kom aanklop het vir hulp, hulle haar gehelp het. Toe dr Russel Botman, die destydse leraar van die NGSK in Wynberg, daarna vir dr Nel bel om dankie te sê, het dr Nel hom genooi om te kom kuier. Hy het hom ook vertel van sy kerkraad se besluit vroeër daardie jaar dat hulle twee kerkrade bymekaar moet kom. Ek het hom gevra wat hy daarvan dink?" vertel Nel. "Dr Botman het my vertel van die tragiese
geskiedenis van sy gemeente, hoe hy as gevolg van sy teenstand teen apartheid in die tronk was, hoe hulle gemeente deur die noodtoestand verdeel is, en hoe hulle gehoop het dat die NG Kerkgemeente iets sou doen aangesien soveel van hulle lidmate ministers was."
Die eerste ontmoeting kort daarna in 1991 was die begin van ’n jare lange proses van versoening wat soms pynlik was, veral toe oor die verlede gepraat is, vertel dr Nel. "Maar dit was alles die moeite werd. Later het hierdie samewerking na die twee ringe oorgevloei. In 1992 het die Wynbergringe van die NG Kerk en VGK besluit om ’n konvent as basis van samewerking te aanvaar." Hierdie inisiatief het intussen ook die proses van kerkeenheid op streeks- en nasionale vlak gestimuleer," vertel dr Nel. "Die Wes-Kaapse en Oos-Kaapse Sinodes van die NG Kerk en die Wes-Kaapse Sinode van die VGK het gedurende 2001ook ’n konvent by Hawekwa naby Wellington gevorm. Dit lyk of ’n konvent op nasionale vlak ook begin vorm aanneem," sê dr Nel. "Die Algemene Sinode van die VGK het reeds ten gunste daarvan besluit, en ons vertrou dat die Algemene Sinode van die NG Kerk ook so sal maak."
Die twee kerkrade het hulle verbind tot die vestiging van net een gemeente in Wynberg.
Besoek Wynberg-gemeente se webbladsy vir meer inligting: http://www.ngkerkwynberg.co.za
|
Stuur pos na
dtnel@iafrica.com met vrae of opmerkings
in verband met hierdie webwerf.
|