

Gewyde Diens om 08:00
Die diens begin 08:00 en eindig om 08:30. Die fokus val op musiek, stilte en ’n korter boodskap. Musiek en stilte help ons om rustig te raak, te fokus op die teenwoordigheid van God en na te dink oor wat die Here na aanleiding van sy Woord op ons hart en gedagtes wil lê.
Die diens bevat geen lang afkondigings, kinderboodskappe, getuienisse of geloofsbelydenisse nie. Lidmate wat die behoefte het aan ’n diens waar silte en musiek hulle kan help om die boodskap op ’n dieper vlak te ervaar, mag by die gewyde dienste baat.

Formele Dienste om 09:30
Daar is Christene wie se denke ‘n belangrike rol in hul ontmoeting met God inneem. Preke met die klem op Skrifuitleg is vir hulle belangrik. Vernuwing gaan vir hulle gepaard met ‘n dieper kennis van God se Woord. Hulle verkies om geordende woorde te gebruik wanneer hulle bid en fokus sterker op die woorde wanneer hulle sing. Hulle hou van ‘n spesifieke orde in die liturgie en vind aanklank by 'n klassieke liturgie. Hulle behoort veral by ons formele dienste aanklank te vind. Ons is bevoorreg om die bekende Danie Smit as ons begaafde orrelis en koordirigent te hê.

Informele Diens om 09:30 op die vierde Sondag van die maand
Daar is Christene wie se emosies ‘n meer belangrike rol in hul ontmoeting met God inneem. Getuienis, sang, meevoerende musiek en ‘n samebindende atmosfeer is vir hulle belangrik. Vernuwing gaan vir hulle gepaard met ‘n sterker belewing van die heiligheid van God. Hulle verkies spontane gebede (soms met musiek in die agtergrond) en beleef lofprysing en aanbidding meer intens. Hulle vind nie aanklank by ‘n formele liturgie nie. Ons informele dienste en jeugdienste is veral op hierdie groep se behoeftes gerig.